
Dr. Carol Kotze
HOEWEL daar in Namibiё se onderwys tekens is van vooruitgang na 20 jaar van onafhanklikheid, word algemeen aanvaar dat daar ook baie ernstige tekortkominge bestaan.
Daar is wel meer skole en leerkragte, asook meer kinders op skool, maar terselfdertyd is daar minder leerlinge wat as werklik geletterd beskou kan word wanneer hulle na 12 jaar op die skoolbanke die skool verlaat om die werks- of akademiese wêreld aan te durf. Volgens amptelike syfers het net sowat 51 persent van graad 10-leerders aan die einde van 2009 genoeg punte behaal om na graad 11 te vorder.
Dieselfde swak prestasie het gevolg ten opsigte van graad 12-leerders wat die eksamen op gewone vlak geskryf het. Soos in die verlede het leerders wat die hoёrvlak-eksamen aangedurf het, aansienlik beter gevaar.
Niks het werklik ten opsigte van hierdie prestasie (of tekort daaraan) verander sedert onafhanklikwording in 1990 nie. Dit ten spyte van die feit dat die Regering jaarliks in sy begroting die meeste geld aan onderwys bestee. Wat het verkeerd geloop sedert 1990?
Dit is die vraag wat die afgelope 10 jaar of langer op baie lippe is, maar ten spyte van gereelde ondersoeke en opnames, wat uiteindelik uitgeloop het op die sogenaamde ‘Etsip’ wat glo alles gaan regruk, duur die probleme voort. S
oos dr. Jeanne Tötemeyer onlangs in ‘n referaat in die noorde van die land gesê het, moet die onderliggende rede vir die agteruitgang van onderwys op alle vlakke in die land by taalonvermoё gesoek word.
Geen van die ander probleme kan opgelos word nie voordat leerders sowel as leerkragte nie funksioneel taalvaardig is nie – dis nie goed genoeg om jouself mondelings “verstaanbaar” te kan maak wanneer jou akademiese studies of jou werk dit van jou gaan vereis om Engels met begrip te kan lees en skryf nie.
Dit het tyd geword dat die Regering, oftewel die Ministerie van Onderwys, aanvaar dat die probleem slegs opgelos kan word indien die land se beste leerkragte in die primêre skoolfase geplaas word, waar hulle die basiese vaardighede van Engels lees, skryf en verstaan en somme maak, stewig kan vestig.
As mens dink aan die feit dat die oorgrote meerderheid van ons land se kinders uit ‘n benadeelde agtergrond kom, waar minstens een en meer dikwels albei ouers ongeletterd is, sal dit nie moeilik wees om te besef dat dit dié kinders baie langer sal neem om die basiese taal- en syfervaardighede aan te leer wanneer hulle in graad 1 in die skool kom.
Hulle het ’n agterstand teenoor kinders wat reeds twee of selfs drie jaar by ‘n voorskoolse skool deurgebring het en reeds kan tel en syfers herken asook ruimtelik kan dink en kleure en selfs letters kan uitken.
Die speelveld sal eers vir alle kinders gelyk wees wanneer alle kinders minstens twee jaar in so ‘n voorskoolse inrigting deurbring voordat hulle in graad 1 opgeneem word.
Maar dan is die veronderstelling eerstens dat die leerkragte wat in daardie voorskoolse klasse met die kinders werk, deeglik en doeltreffend opgelei is en vlot en verstaanbaar Engels kan praat en tweedens, dat die graad 1-onderwyser nie met 40 woelige kinders gekonfronteer gaan word nie.
Dit is voor die hand liggend dat ‘n kind wat tussen 39 ander woelwaters kom sit en niks kan verstaan wat die leerkrag vir hom of haar sê nie, baie gou verveeld of gefrustreerd gaan raak en siedaar, die dissiplineprobleme wat ons skole tot in graad 10 ondervind, word gebore!
Lê die regte fondasie in die laerskool en leerders sal vanself sorg vir die res, maar om dit te bewerkstellig, moet die leerkragte dringend en ten volle op gelei word!