’n ONVERBIDDELIKE wind het oor die woestynsand gewaai en die skroeiende Namibson het warm gebak. Gebukkend en besig met die alewige gesukkel om sand van die spoorlyn weg te hou, het die klippie se fasette blink in Zacharias Lewala se oë gekaats.
Op daardie warm dag in April 1908 sowat 20 kilometer buite Lüderitz het hy die eerste mens in Namibië geword om ’n diamant in hierdie land te vind. Voordat Zacharias na die deel van die wêreld gekom het, het hy op die Kimberleydiamantvelde gewerk en onmiddellik besef dat die klippie in sy hand meer is as net ’n stukkie glas. Hy het dit vir sy baas, August Stauch, gewys, wat dit vir toetse na Aus gestuur het. In Augustus dieselfde jaar is die Sperrgebiet geproklameer en het diamantdelwery in alle erns begin.
Ontwikkelinge van diamantdelwery in Namibië het sulke groot afmetings aangeneem dat ’n nuwe dorp, Kolmanskop, onstaan het en mense van regoor die land het daarheen gestroom om ook hul deel van die vonds te eis. In die eerste jare van diamantdelwery in die land is bykans een ton diamante gedelf, wat toe sowat 20 persent van die wêreld se totale diamantproduksie verteenwoordig het.
Vandag staan die geraamtes van die myners se dorpie feitlik toegewaai onder sand en stroom mense van regoor die wêreld opnuut na Namibië om die spore van vergange jare te volg. Maar wat bied die Sperrgebiet en omliggende gebiede aan die reisiger?

Aus se inligtingsentrum
Aus
Ná die Duitse magte hulle op 9 Julie 1915 by Otavi aan die Suid-Afrikaanse magte oorgegee het, het Aus een van twee interneringskampe vir die Duitse militêre personeel geword. Die militêre polisie en offisiere is na ’n kamp in die Noorde gestuur, terwyl onderoffisiere na Aus geneem is. Ná die Verdrag van Versailles onderteken is, is die kamp opgeslaan en dit is teen Mei 1919 gesluit. Bykans niks behalwe die Eerste Wêreldoorloggrafte het van die kamp oorgebly nie. Dit wat wel behoue gebly het asook ou perdestalle van die Duitse soldate kan besigtig word.

Lüderitz
Lűderitz
ʼn Unieke atmosfeer oorrompel die besoeker wanneer hy op Lüderitz aankom. Dit is ʼn mengsel van die vriendelikheid en gasvryheid waarmee die Suide-mense spog, gedrewenheid om sake te doen, die geheimsinnigheid van diamantbote wat vroeg soggens op see is en laat middag terugkom hawe toe en laggende en geselsende stemme van visfabriekwerkers wanneer hulle hul skof afgehandel het.
Behalwe vir die energie, spog die dorp met van die oudste geboue in die land, die varsste seekos, asemrowende sonsondergange, reisplanne na die wonderlikste bestemmings en ’n ryk geskiedenis.
Een van die bestemmings wat daagliks besoek kan word, is die Diaz-kruis. Geskiedenisboeke vertel dat Bartholomeus Diaz op 24 Julie 1488 ’n padrão (klipkruis) opgerig het by die baai wat hy Angra de São Christóvão genoem het en dit aan São Tiago opgedra het.
Die baai word later Angra genoem en staan vandag as Lüderitz bekend. Die houtbrug waaroor besoekers na die replika van die kruis loop, is in 1911 gebou om die mishoring te bereik. Om daar te kom, word om die strandmeer na die skiereiland gery.
Ook te siene op die roete is Grossebucht waar in die ysige see geswem kan word, asook Stormvogelbucht, waar ʼn ou Noorweegse walvisstasie was.
Die naam Lüderitz is afkomstig van die Duitse handelaar, Adolf Lüderitz, wat in 1883 die hawe by ʼn Nama-hoofman gekoop het. Hy het later die grond tot by Oranjemund al langs die kus af ook gekoop. Binne maande het Imperialistiese Duitsland Lüderitz onder Duitsland se “bewaring” geplaas en voortgegaan om Suidwes-Afrika te koloniseer. Die proses het presies ʼn jaar geneem. Omdat in daardie stadium geen ander hawe vir Duits Suidwes-Afrika was nie, het Angra Pequeña die hoof in- en uitgangsroete vir Duitsland gebly. Die dorp is later Lüderitzbaai genoem nadat Adolf Lüderitz in 1886 in die see verdrink het. ʼn Gedenkplaat ter ere van hom is op Shark-eiland by Lüderitz opgerig.
Shark-eiland was as konsentrasiekamp ingerig vir gevange lede van guerilla-eenhede wat deur Cornelius Fredericks en Hendrik Witbooi gelei is. Toe die 1 795 gevangenes op 9 September 1906 op Lüderitz aankom, was daar reeds ʼn paar honderd Herero-gevangenes op Shark-eiland. Hulle was vroeër die jaar vanaf Windhoek en Okahandja gebring om die spoorlyn tussen Aus en Lüderitz te help bou. Teen die einde van 1906 was daar meer as tweeduisend gevangenes in die kamp. Die naam van die “eiland” het blykbaar sy oorsprong gehad van haaie wat die lyke van gestorwe gevangenes gevreet het. Die lyke is op die rotse geplaas waar die branders dit afgeslaan het.
Vandag is die eiland ’n kampeerterrein en verblyf word ook in die ligtoringhuis of standaard rushuise gebied.
Die spoorwegstasie is in 1914 deur die bouafdeling van Metje & Ziegler gebou en huisves ʼn interessante kombinasie van verskillende argitektoniese style. Die regering se argitek was verantwoordelik vir die ontwerp van die gebou.
Naby die ingang van die dorp is die geskiedkundige Goerkehuis. Dit is nie net een van die mooiste geboue op die dorp nie, maar was aan die begin van die twintigste eeu dié huis op die dorp. Dit het aan Hans Goerke, aandeelhouer en bestuurder van drie diamantmaatskappye behoort. Dit is in 1909 gebou en besoekers kan dit op weeksdae tussen 14:00 en 16:00 en Saterdae vanaf 16:00 tot 17:00 besoek. Wanneer ʼn belangrike afvaardiging besoek by Namdeb aflê, word die huis as gastehuis gebruik.
ʼn Besoek aan die Felsenkirche is ’n moet. Die kerk is in 1912 gebou met Albert Bause wat die ontwerp en konstruksie oorsien het. Dit het sowat 46 000 Duitse mark gekos om te bou, geld wat deur Duitsland geskenk is.
ʼn Groot aantrekkingskrag in die kerk is die gebrandskilderde vensters. Een van die vensters is deur keiser Wilhelm geskenk.
Ander interessante geboue is die Troosthuis. Dit is in tipiese koloniaanse styl in 1909 deur Hermann Metje vir Edmund Troost gebou. Dan is daar die Kreplinhuis wat aan Emil Kreplin, die eerste burgemeester van Lüderitz behoort het en ook in 1909 gebou is. Die Woermannhuis is bietjie ouer. Dit is in 1906 gebou en deur Friederich Hoft ontwerp as ʼn kantoor vir die Woermann- linie.
Besoekers aan die dorp kan ook ʼn draai by Agaatstrand maak, waar braaigeriewe en skoon toilette vir die besoeker se gerief opgerig is. Op pad daarheen kan die toeris hom vergaap aan die springbokke en gemsbokke wat in die groen gras wei wat welig groei en deur die afloop van die dorp se riooldamme benat word.
Vir inligting oor verblyf op die dorp, kan Lüderitz Safari’s and Tours by 063 202 719 geskakel word.