Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

27.11.2009

Die Sperrgebiet wink vir besoekers


Kolmanskop

’n ONVERBIDDELIKE wind het oor die woestynsand gewaai en die skroeiende Namibson het warm gebak. Gebukkend en besig met die alewige gesukkel om sand van die spoorlyn weg te hou, het die klippie se fasette blink in Zacharias Lewala se oë gekaats.

Op daardie warm dag in April 1908 sowat 20 kilometer buite Lüderitz het hy die eerste mens in Namibië geword om ’n diamant in hierdie land te vind. Voordat Zacharias na die deel van die wêreld gekom het, het hy op die Kimberleydiamantvelde gewerk en onmiddellik besef dat die klippie in sy hand meer is as net ’n stukkie glas. Hy het dit vir sy baas, August Stauch, gewys, wat dit vir toetse na Aus gestuur het. In Augustus dieselfde jaar is die Sperrgebiet geproklameer en het diamantdelwery in alle erns begin.

Ontwikkelinge van diamantdelwery in Namibië het sulke groot afmetings aangeneem dat ’n nuwe dorp, Kolmanskop, onstaan het en mense van regoor die land het daarheen gestroom om ook hul deel van die vonds te eis. In die eerste jare van diamantdelwery in die land is bykans een ton diamante gedelf, wat toe sowat 20 persent van die wêreld se totale diamantproduksie verteenwoordig het.

Vandag staan die geraamtes van die myners se dorpie feitlik toegewaai onder sand en stroom mense van regoor die wêreld opnuut na Namibië om die spore van vergange jare te volg. Maar wat bied die Sperrgebiet en omliggende gebiede aan die reisiger?

Aus se inligtingsentrum
Aus
 
Ná die Duitse magte hulle op 9 Julie 1915 by Otavi aan die Suid-Afrikaanse magte oorgegee het, het Aus een van twee interneringskampe vir die Duitse militêre personeel geword. Die militêre polisie en offisiere is na ’n kamp in die Noorde gestuur, terwyl onderoffisiere na Aus geneem is. Ná die Verdrag van Versailles onderteken is, is die kamp opgeslaan en dit is teen Mei 1919 gesluit. Bykans niks behalwe die Eerste Wêreldoorloggrafte het van die kamp oorgebly nie. Dit wat wel behoue gebly het asook ou perdestalle van die Duitse soldate kan besigtig word.
Die wilde perde
 
Legendes en mites beweer dat die perde eens huishoudelike diere was wat wild geraak het of perde is wat van ʼn vergane skip langs die Skedelkus afkomstig is en hul weg na die Suide gevind het. ’n Ander gunstelingverhaal is dat die perde aan die begin van die twintigste eeu deur baron Hansheinrich von Wolf geteel is en met die inval van die Eerste Wêreldoorlog hul pad suidwaarts gevind het.

Die waarheid het egter aan die lig gekom ná navorsing deur ʼn bekende in toerismekringe, mnr. Mannfred Goldbeck, en ’n student van die Universiteit van die Vrystaat, me. Telané Greyling, gedoen is. Duitse militêre verslae wat van die gebeurtenisse op ’n Maartoggend in 1915 vertel, het hulle op die spoor geplaas

“Op die oggend van 27 Maart het die onvermoeibare vlieënier, off. Paul Fiedler, na Garub gevlieg en groot konsternasie veroorsaak toe hy bomme suksesvol in die kamp van die vyand en tussen die 1 700 ryperde laat val het.” (Hans von Oelhafen: Fer Feldzug in Südwest 1914/ 15, Berling 1923, p. 117).

Die vyand, die Suid-Afrikaanse magte, was onderweg om hul aanval te begin en het bevele gehad om op die hakke van die Duitse soldate te bly wat besig was om die aftog te blaas.

Met die bomaanval was daar waarskynlik nie genoeg tyd om die perde wat in alle windrigtings uitmekaar gespat het, almal weer bymekaar te kry nie.

Dit blyk derhalwe asof die kern van die trop aan die Suid-Afrikaanse weermag behoort het. Dit is ook moontlik dat ander perde wat ná 1915 weggehardloop het van hul eienaars wat handelaars, prospekteerders en boere was, ook by die trop aangesluit het.

Die perde hou by Garub, sowat 20 kilometer wes van Aus, waar die pad na regs afdraai. Daar is ʼn uitkykpunt gebou en soms is daar ook gemsbokke wat by die watergat suip.
Grasplatz
 
Op die 125 kilometer lange pad tussen Aus en Lüderitz was ses treinstasies of stoppunte gewees. By een van hulle, Grasplatz, staan die huis van die stasiemeester nog trots op ’n klipkoppie. Dit is ook naby die geboutjie waar Zacharias Lewala daardie eerste diamant opgetel het.

Hou gerus langs die pad stil en stap die paar honderd meter na die huisie. Die piepklein geboutjie se vloere is intussen afgebreek en uitgehaal – dalk het iemand na ’n versteekte botteltjie diamante gaan soek…

Lüderitz
Lűderitz
 
ʼn Unieke atmosfeer oorrompel die besoeker wanneer hy op Lüderitz aankom. Dit is ʼn mengsel van die vriendelikheid en gasvryheid waarmee die Suide-mense spog, gedrewenheid om sake te doen, die geheimsinnigheid van diamantbote wat vroeg soggens op see is en laat middag terugkom hawe toe en laggende en geselsende stemme van visfabriekwerkers wanneer hulle hul skof afgehandel het.

Behalwe vir die energie, spog die dorp met van die oudste geboue in die land, die varsste seekos, asemrowende sonsondergange, reisplanne na die wonderlikste bestemmings en ’n ryk geskiedenis.

Een van die bestemmings wat daagliks besoek kan word, is die Diaz-kruis. Geskiedenisboeke vertel dat Bartholomeus Diaz op 24 Julie 1488 ’n padrão (klipkruis) opgerig het by die baai wat hy Angra de São Christóvão genoem het en dit aan São Tiago opgedra het.

Die baai word later Angra genoem en staan vandag as Lüderitz bekend. Die houtbrug waaroor besoekers na die replika van die kruis loop, is in 1911 gebou om die mishoring te bereik. Om daar te kom, word om die strandmeer na die skiereiland gery.

Ook te siene op die roete is Grossebucht waar in die ysige see geswem kan word, asook Stormvogelbucht, waar ʼn ou Noorweegse walvisstasie was.

Die naam Lüderitz is afkomstig van die Duitse handelaar, Adolf Lüderitz, wat in 1883 die hawe by ʼn Nama-hoofman gekoop het. Hy het later die grond tot by Oranjemund al langs die kus af ook gekoop. Binne maande het Imperialistiese Duitsland Lüderitz onder Duitsland se “bewaring” geplaas en voortgegaan om Suidwes-Afrika te koloniseer. Die proses het presies ʼn jaar geneem. Omdat in daardie stadium geen ander hawe vir Duits Suidwes-Afrika was nie, het Angra Pequeña die hoof in- en uitgangsroete vir Duitsland gebly. Die dorp is later Lüderitzbaai genoem nadat Adolf Lüderitz in 1886 in die see verdrink het. ʼn Gedenkplaat ter ere van hom is op Shark-eiland by Lüderitz opgerig.

Shark-eiland was as konsentrasiekamp ingerig vir gevange lede van guerilla-eenhede wat deur Cornelius Fredericks en Hendrik Witbooi gelei is. Toe die 1 795 gevangenes op 9 September 1906 op Lüderitz aankom, was daar reeds ʼn paar honderd Herero-gevangenes op Shark-eiland. Hulle was vroeër die jaar vanaf Windhoek en Okahandja gebring om die spoorlyn tussen Aus en Lüderitz te help bou. Teen die einde van 1906 was daar meer as tweeduisend gevangenes in die kamp. Die naam van die “eiland” het blykbaar sy oorsprong gehad van haaie wat die lyke van gestorwe gevangenes gevreet het. Die lyke is op die rotse geplaas waar die branders dit afgeslaan het.

Vandag is die eiland ’n kampeerterrein en verblyf word ook in die ligtoringhuis of standaard rushuise gebied.

Die spoorwegstasie is in 1914 deur die bouafdeling van Metje & Ziegler gebou en huisves ʼn interessante kombinasie van verskillende argitektoniese style. Die regering se argitek was verantwoordelik vir die ontwerp van die gebou.

Naby die ingang van die dorp is die geskiedkundige Goerkehuis. Dit is nie net een van die mooiste geboue op die dorp nie, maar was aan die begin van die twintigste eeu dié huis op die dorp. Dit het aan Hans Goerke, aandeelhouer en bestuurder van drie diamantmaatskappye behoort. Dit is in 1909 gebou en besoekers kan dit op weeksdae tussen 14:00 en 16:00 en Saterdae vanaf 16:00 tot 17:00 besoek. Wanneer ʼn belangrike afvaardiging besoek by Namdeb aflê, word die huis as gastehuis gebruik.

ʼn Besoek aan die Felsenkirche is ’n moet. Die kerk is in 1912 gebou met Albert Bause wat die ontwerp en konstruksie oorsien het. Dit het sowat 46 000 Duitse mark gekos om te bou, geld wat deur Duitsland geskenk is.

ʼn Groot aantrekkingskrag in die kerk is die gebrandskilderde vensters. Een van die vensters is deur keiser Wilhelm geskenk.

Ander interessante geboue is die Troosthuis. Dit is in tipiese koloniaanse styl in 1909 deur Hermann Metje vir Edmund Troost gebou. Dan is daar die Kreplinhuis wat aan Emil Kreplin, die eerste burgemeester van Lüderitz behoort het en ook in 1909 gebou is. Die Woermannhuis is bietjie ouer. Dit is in 1906 gebou en deur Friederich Hoft ontwerp as ʼn kantoor vir die Woermann- linie.

Besoekers aan die dorp kan ook ʼn draai by Agaatstrand maak, waar braaigeriewe en skoon toilette vir die besoeker se gerief opgerig is. Op pad daarheen kan die toeris hom vergaap aan die springbokke en gemsbokke wat in die groen gras wei wat welig groei en deur die afloop van die dorp se riooldamme benat word.

Vir inligting oor verblyf op die dorp, kan Lüderitz Safari’s and Tours by 063 202 719 geskakel word.
Namibië se spookdorp
 
Kolmanskop, die legendariese spookdorp naby Lüderitz, is na ’n vervoerdrywer Johnny Kolman vernoem.

Volgens vertellinge het hy sy wa naby ’n lae koppie oos van Lüderitz uitgespan. In 1905 was hy vasgekeer in ’n hewige sandstorm. Hy is gered, maar sy osse is in die storm weg en net sy wa is agtergelaat, waar dit vir jare nog gesien is. Mense in die omgewing het dit toe Kolmanskop genoem.

Ná Zacharias Lewala die diamant gevind en vir August Stauch gegee het, het Stauch kleims afgesteek en om mynlisensies aansoek gedoen. Dit was die begin van Stauch se rykdom en hy het sy hoofkantoor op Kolmanskop gevestig. Die dorp het verder begin uitbrei en indrukwekkende geboue is opgerig. Dit was ’n ryk dorp met ’n groot saal waar verskeie geleenthede aangebied is. Vermaaklikheidskunstenaars van Duitsland het van tyd tot tyd opgetree en ’n kegelbaan is gebou. Die dorp het ook ’n skool ge had, ’n algemene handelaar, slaghuis, bakkery en ’n fabriek waar minerale water gebottel en ys gemaak was.

In 1957 het die laaste sewe families uit Kolmanskop getrek om groter en meer diamante suid van Lüderitz, waar Oranjemund vandag is, te delf.

Sedert Januarie 2002, word die geboue by Kolmanskop verbeter om dit in ’n toeristebestemming te omskep.