Die man, Gerhard Tötemeyer

DIE uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het 'n kort vakansie saam met sy ouers in Duitsland na bykans elf jaar verleng. Ses-en-twintig jaar na sy terugkeer na Namibië word hy die eerste akademikus wat weens sy uitsprake teen die tuislandbeleid uit die Nasionale party geskop is.
Prof. Gerhard Tötemeyer is op 21 Mei 1935 op Gibeon as seun van die sendeling, eerwaarde Hermann Tötemeyer, gebore. Sy vader wat in 1927 na Namibië gekom het, was op Keetmanshoop gestasioneer en dit was waar prof. Tötemeyer die eerste vier jaar van sy lewe deurgebring het.
In Mei 1939 het die Tötemeyer-gesin per skip vir 'n vakansie na Duitsland vertrek. Hulle was veronderstel om in Oktober van daardie jaar na Namibië terug te keer. In September 1939 breek die Tweede Wêreldoorlog uit en dit het tot gevolg dat die gesin eers in 1950 na Keetmanshoop kon terugkeer.
"Ek kon in daardie stadium geen woord Afrikaans of Engels praat nie en die destydse hoof van die skool het gesê hy sou my in so lae standerd moes plaas dat dit my sou frustreer."
Sy oom was eienaar van 'n algemene handelaarsonderneming en hy het aan-gebied dat die jonge Gerhard sy vakmanskap as koopman begin. Om die vakmanskap af te lê, het drie jaar geduur en alles rakende die koop en verkoop van goedere moes onder die knie gekry word. Daarbenewens moes ook kennis opgedoen word van bestellings en die boekhouding van 'n algemene handelaarswinkel.
Intussen het hy aandklasse begin loop en in 1953 het hy sy skoolloopbaan aan die Paul Roos Gimnasium in Stel-lenbosch hervat waar hy twee jaar later gematrikuleer het. Met 'n beurs van die destydse Administrasie van Suidwes-Afrika het hy sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch voortgesit en sy BA Honn.-graad (Geskiedenis) in 1959 behaal. In 1960 verwerf hy sy Sekondêre Onderwysdiploma.
Dit het egter vir die jonge Tötemeyer nie net om studies gegaan nie en daar-om was hy ook baie aktief in die stu-dentegemeenskap.
"Ek het die Duits-Afrikaanse Studente-bond van die Universiteit van Stellenbosch gestig wat tot vandag toe bestaan. Daar was destyds baie Duitssprekende Na-mi---biërs wat aan die Universiteit van Stel-lenbosh gestudeer het. Ek was ook die president van die fotografiese klub, lid van die skaakklub en kunsredakteur van die weeklikse studentekoerant, die Matie."
In 1961 begin prof. Tötemeyer as onderwyser aan die Windhoek Hoërskool werk.
Die jaar daarna vertrek hy na Duitsland as uitruil-student waar hy vir drie jaar navorsing ter voorbereiding van sy meestersgraad op die gebied van politieke we-ten-skappe en maatskaplike ontwik-keling gedoen het. In 1962 is hy met sy vrou, Andree-Jeanne, getroud.
In 1966 keer hy en sy vrou na Suid-Afrika terug waar hy as joernalis vir Die Burger begin werk het. Die volgende jaar aanvaar hy 'n pos as dosent by die Universiteit van Stellenbosch en twee jaar later voltooi hy sy meestersgraad wat handel oor die "Rassedenke van Adolf Hitler".
Intussen het prof. Tötemeyer met navorsing ter voorbereiding van sy doktorsgraad begin. Hy sê dit is juis met dié navorsing dat hy 'n ander politieke sienswyse begin kry het.
"Gedurende my navorsing in die voormalige Owamboland oor die rol van die Owambo in die politieke ontwikkeling van die land, het ek verskillende elite-groepe geïdentifiseer. Hul standpunte het 'n ommekeer in my politieke denke veroorsaak.
"Dit was in die middel sewentiger-jare en ek was blootgestel aan die marteling deur die Suid Afrikaanse polisie wat daar bo in die noorde plaasgevind het, die feit dat men-seregte geminag was en mense onderdruk, vervolg en in hegtenis geneem was.
"My bevindinge in die proefskrif was dat die tuislandbeleid deur die Owambo-bevolking verwerp word en dat ongeveer 88% van dié bevol-king reeds in daardie stadium Swapo-ondersteuners was."
Volgens prof. Tötemeyer was die destydse Suid-Afrikaanse regering teleurgesteld in hom omdat hy voortgegaan het om die boek te publiseer en nie bereid was om sy standpunt oor die tuislandbeleid in heroorweging te neem nie.
Om sake te vererger, het 'n artikel in die Sunday Times ver-skyn waar prof. Tötemeyer 'n versoek gerig het dat die minister van gevangeniswese en korrektiewe dienste, mnr. Andimba Toivo ya Toivo, vanaf Robbeneiland vrygelaat moet word.
Voorts het hy geargumenteer dat 'n vreedsame oplossing vir Namibië nie moontlik is as die Suid-Afrikaanse regering nie met Swapo oor die land se toekoms begin onderhandel nie.
Dit het daartoe aanleiding gegee dat die veiligheidspolisie pos van prof. Tötemeyer begin onderskep het asook om na sy telefoonoproepe in te luister. Verder is sy bewegings dopgehou.
Prof. Tötemeyer was ook vir enkele jare in die Nasionale Party se Jeugaksie in Kaapland aktief. Hy sê die doel daarvan was om te kyk of hy nie van binne af 'n veranderinge in die denke van die jeug kon bewerkstellig nie, want hy was bekommerd oor die gevolge wat apartheid ingehou het.
"My verdoeming van die tuisland-beleid in die noorde van Namibië het in April 1976 tot my skorsing uit die Nasionale Party gelei."
Kort hierna het die Universiteit van Transkei vir hom die pos van dekaan van die fakuliteit: geesteswetenskappe aangebied. Hy het probeer om die universiteit in 'n volwaardige Afrika-instelling te omskep en baie van die blan-ke personeel met Transkei-bur-gers vervang.
Dit, sê hy, het die Suid-Afrikaanse ower-heid as on--aan--vaarbaar beskou en druk is op die Transkei-regering uitgeoefen om van hom ontslae te raak.
"Eendag in 1984 is daar kuns-matig 'n studente-opstand aan die gang gesit en dit het hulle as rede geneem om my in hegtenis te neem en na die hoofkantoor van die veiligheidspolisie te neem. Daar was 'n deportasiebevel teen my uitgereik en ek moes weens politieke redes binne een uur die land verlaat.
"Destyds was ek ook die president van die vereniging van politieke wetenskap in Suid-Afrika en my deportasie het tot in die Parlement van die land opspraak gewek."
In 1985 het prof. Tötemeyer 'n pos by die Universiteit van Kaapstad aanvaar en twee jaar later het hy in Namibië by die destydse Akademie as dosent begin werk. Terwyl hy in Windhoek was, het hy aktief by die politiek betrokke begin raak en was lid van die Action 435-groep wat hulle vir die land se onafhanklikheid beywer het.
In dié proses het hy dreigoproepe ontvang en is op sy huis geskiet.
"Na die dood van Anton Lubowksi het ek 'n oproep ontvang en die persoon het my meegedeel dat ek derde op die lys is van mense wat vermoor gaan word. Deur God se genade het ek en my gesin Namibië se onafhanklikwording oorleef."
In 1991 het die Kabinet vir prof. Tötemeyer gevra om as lid van die land se eerste afbake-ningskommissie te dien. Die kom-missie het nege maande geneem om die land in streke en kiesafdelings in te deel.
Die volgende jaar is hy gevra om met die eerste streekverkiesing as verkiesingsdirekteur op te tree en kort na die verkiesing is hy die aanbod gemaak om vir 'n verdere vier jaar in die pos aan te bly.
In daardie tyd was hy ook voorsit-ter van die Stigterskommittee van die Verkiesingsforum vir die Sui-der-Afrikaanse Ontwikkelings-gemeenskap, maar het terselfdertyd hard begin werk aan die gedagte van desentralisasie.
In 2000 is prof. Tötemeyer deur pres. Nujoma genader en gevra om die pos van adjunkminister vir streek- en plaaslike owerhede en behuising te vul met die doel om desentralisasie 'n werklikheid in Namibië te maak.
In dié hoedanigheid het prof. Tötemeyer op verskeie komitees gedien en in Julie vanjaar besluit om weens gesondheidsredes as adjunkminister en lid van die parlement te bedank. Hy sê sy filosofie was en is nog steeds om die bevolking by die ontwikkeling van die land betrokke te kry.
"As die inwoners bemagtig word, kan hulle maklik hierdie rol vervul. As demokrasie nie op die plaaslike vlak werk nie, kan dit nie suksesvol op die sentrale vlak toegepas word nie. Met ander woorde, op die plaaslike vlak moet die fondament vir demokrasie gelê word en daar-van kan dit verder uitgebou word," sê prof. Tötemeyer.
Hy sê hy is nog beskikbaar om as raadgewer op te tree of om op kommissies of komitees en rade te dien. Hy oorweeg dit om mettertyd saam met 'n vennoot 'n konsultasie-agentskap te stig.
Volgens prof. Tötemeyer be-staan heelwat uitdagings wat die regering nog moet oorkom. Dit sluit in die bekamping van armoede en die voorsiening van opleiding en beroepsuitoefening, die verskaffing van behuising aan die minderbevoorregtes en die bekamping van miv/vigs.
Voorts hoop hy dat 'n vreedsame oplossing vir die grondkwessie gevind sal word.
Met verwysing na nasionale versoening sê prof. Tötemeyer dat daar nog besonder hard gewerk moet word aan dié beleid. Volgens hom is die proses nog nie voltooi nie. Na sy mening is dit veral die blanke Namibiërs wat nog nie ten volle besef dat hulle ook 'n maatskaplike verpligting teenoor die land het nie. Hy sê met 'n onlangse besoek aan die suide van die land het hy nog openlike rassisme teegekom.
"Ons moet meer na mekaar luister en nie aan mekaar probeer voorskryf hoe om te leef nie. Die blankes moet besef dat hulle ook 'n bydrae het om tot die ontwikkeling van die land te lewer en moet daarom meer konstruktief in die politiek betrokke wees en nie afsydig staan nie, anders isoleer hulle hulself."
Volgens prof. Tötemeyer is daar 'n groot gewilligheid aan regerings-kant om saam met die blankes in die land te werk maar die leiers raak agterdogtig omdat die blankes hulle soms onttrek.