27.11.2009 Die Kavango: ’n lafenis
DIE Okavangorivier wat ’n 400 km lange grensstrook tussen Namibië en Angola vorm, is die hartklop van die Kavangostreek en sy mense.
Die vrugbare vlaktes aan albei kante van die rivier bied aan gemeenskappe ’n bestaan in die vorm van visvang, weiding vir vee en verbouing van hul stapelvoedsel wat uit mielies, mahangu en sorghum bestaan. Wat die rivier selfs meer uniek maak, is die feit dat dit die enigste standhoudende rivier ter wêreld is wat ooswaarts vloei sonder om die see te bereik. Die eindbestemming is die Okavango Delta in Botswana.
Midde die verborge skoonheid van Kavango is Rundu, die hoofdorp van die streek langs die vloedvlakte van die Okavango geleë. ’n Ideale oornagdorp vir besoekers aan die omgewing en selde die einde van ’n toer na die Noordooste van Namibië.
Vanaf Grootfontein, wat 250 km suidwes van Rundu geleë is, is die enigste variasie in die boom- en doringbosomgewing aanvanklik piekniekterreine langs die pad en die kenmerkende makalani-palms wat bo die bosse uittroon.
Bykans halfpad tussen Grootfontein en Rundu is die hek van die veeartsenybeheerpos. Dit is ook hier waar die gebruik van grond vir kommunale doeleindes drasties en opmerklik van kommersiële boerderymetodes in die Grootfontein-omgewing verander: van groot kommersiële veeplase tot klein bestaansplasies. Die veeartsenyhek is opgerig om die vrye beweging van vee te beperk en die oordra van bek-enklou- seer en runderpes te voorkom. Die verandering in die landskap na die hek is drasties. Met al die klein nedersettings langs die pad is daar ’n vrye beweging van mense en beeste oor en langs die pad. Nader aan Rundu verkoop lede van die plaaslike gemeen- skap hul handwerk soos kleipotte en houtsneewerk.
In die somermaande word tamaties en eksotiese vrugte soos papajas in stapels langs die pad verkoop. Dit is ’n aanduiding van die ryk landboupoten siaal van die omgewing wat ’n besondere hoë reënvalsyfer het in vergely- king met die res van Namibië. Die houtsneekuns wat deur die Kavango’s beoefen word, word van geslag tot geslag oorgedra. Die handwerk het reeds ’n gewilde aandenking vir toeriste aan die omgewing geword.
Kavango bied ’n groot verskeidenheid lodges en kampeerterreine op en om Rundu wat meestal na aan die rivier geleë is en ’n verskeidenheid aktiwiteite bied. Die meeste van die akkommodasiegeriewe word duidelik met naamborde van die pad af aangedui.
|