
Me. Ilga Glück, voorsitter van die DBV, aan die woord.
TWEEDUISEND.
Dit is die getal dankies wat die Dierebeskermingsvereniging (DBV) oorgedra het aan almal wat hul opwindendste projek nóg, ’n kaalalmanak, moontlik gemaak het.
Dit is ook die getal kalenders wat beskikbaar is. Stylvol het die DBV Woensdagaand die kalender aan bykans 130 genooide gaste in die middestad bekendgestel.
’n Oomblik se stilte het in die lug gehang ná die laken gelig is oor die foto’s wat in die kalender gebruik is. Die stilte was een van verwondering vir die puik fotografie van Tony Figuera en ’n verwondering vir dertien dapper vroue wat al die klere laat waai het om hul liefde vir diere aan die wêreld te verkondig.

Gia Simoes en Alana Uys by hul foto’s.
Me. Ilga Glück, voorsitter van die DBV, sê dit was vir hulle nie ’n maklike taak nie, maar letterlik broodnodig om die DBV aan die gang te hou.
In haar toespraak tydens die bekendstelling het sy gesê die fotosessies was baie stresvol – met ’n paar lagwekkende oomblikke tussenin.
“Maar, dames, julle sal seker met my saamstem dat ons saam ’n groot ding deurgemaak het en in die proses gegroei het.”
Sy sê tydens die projek het talle mense gevra waarom hulle nie eerder kinders of klein hondjies gebruik het om hulle standpunt te stel nie.
“Nee, ons het besluit om ons klere te laat waai uit empatie met al die diere wat by ons aankom met niks anders as hul lewens nie.

Tatjana Rapp, Erika Hecker en Waltraut Bierbach spog met hul foto’s.
“Ons het dit ook gedoen om die pleidooi van diere wat wêreldwyd smag na ’n goeie tuiste, te beklemtoon.
“Ons het buite ons verwysingsraamwerk gedink en die sogenaamde normale grense verskuif om ons saak te laat hoor,” het me. Glück gesê. Sy het ’n beroep op alle Namibiërs gedoen om die projek hartlik te ondersteun.
“Koop ’n kalender of help ons om dit te bemark of neem ’n dier in ons skuiling aan!”
Me. Glück het die fotograaf, Tony Figuera, bedank vir sy vrywilligheid om die projek aan te pak. Op sy beurt het hy gesê dit was vir hom ’n fees om te help.
“Toe die DBV my genader het met die projek, het ek geweet dit gaan iets groot wees. Dit gaan ‘rock’.”

Mnr. Ulrich Mackensen van African Packaging was een van die eerstes om kalenders tydens die bekendstelling te koop.
Hy sê hy het dit besef toe hy een oggend ’n voorbladfoto in onder meer Republikein gesien het.
“Ek is seker die ervaring was ongelooflik vir die onbaatsugtige groep vroue. Dit het verder gestrek as fotografie en beligting, maar dit het oor persoonlike groei gegaan. En as ’n mens veg vir oorlewing, moet ’n mens maar verby die normale dinge kyk.”
Die maandborge vir die kalender is First Contact, Marltons, Pro Trade, Engineerd Plastics and Linings, Tiger Wheel & Tyre, Joe’s Beerhouse, Trendlines, Aromatics Wellbeing Centre en Rema Tip Top. Nóg borge was Blue Olive, Flowered Earth, PJ Services en Caterhire.
“En beslis nie die minste nie, dankie aan die dapper vroue Alana, Yolandi, Heidi, Vicky, Gia, Birgit, Erika, Tatjana, Sylvia, Kirsten en die model Ina-Maria,” het me. Glück afgesluit.
Me. Agatha Mason van ad-hoc Design het hand bygesit met die ontwerp en uitleg van die kalender, met die hulp van mnr. Roy van der Merwe. Hy het ook die drukwerk oorsien. Die kalender vir 2010 is te koop teen N$299 stuk.
Tydens die bekendstelling van die kalender was Murray & Roberts, Dynamic Concrete Solutions en African Packaging die eerste maatskappye wat elk tien kalenders gekoop het. Bestellings kan geplaas word by 061 238 822 of ilgag@mweb.com.na.

Van links staan Birgit Kaese, Kerstin Drews, Vicky Matjila en Heidi Grensing voor hul kalenderfoto’s.
Klik op die foto om die fotogallery te vertoon.
In die gallery sal jy na die volgende of die vorige foto's kan aanbeweeg deur in die linker- of die regterkant van die foto te klik. Alternatiewelik kan jy die sleutel "T" gebruik vir terug, "V" vir vorentoe of "M" om die fotovenster toe te maak.