
Mnr. George Dax
DIE omstrede burgemeester van die beleërde Rehoboth-dorpsraad, mnr. George Dax, sy adjunk, me. Cecilia McNab-Sherally en ’n Swapo-raadslid, me. Lelanie Beukes-Uiras, is deur die regerende party se uitvoerende streekraad vir die Hardap-streek gelas om hul kantore summier te ontruim.
Die Dax-groep het gister van die besluit gehoor nadat die hoogste gesag van Swapo in die Hardap-streek Woensdag in die verband vergader het.
’n Spesiale sitting is glo byeengeroep om die slepende krisis op Rehoboth en beweerde wanadministrasie en interne onenigheid aan te spreek.
Die redes vir die drastiese stap van Swapo se streekstruktuur was die verskeie ondersoeke van die Teenkorrupsie Kommissie na beweerde bedrog en wanadministrasie asook die Dax-dorpsbestuur se weiering om by partydissipline en reëls te hou waarop ooreengekom is.
Die wat die Swapo-valbyl oorleef het, is mnr. Bongo Ihalwa wat die voorsitter van die bestuurskomitee is wat onlangs met mnr. Dax verskil het oor die skorsing van die waarnemende hoof uitvoerende beampte, mnr. Geoffrey Kasupi. Teen die aanbevelings van die bestuurskomitee van mnr. Ihalwa het mnr. Dax mnr. Kasupi in sy pos behou. Die ander Swapolid wat die skoonmaakveldtog op die hoogste vlak vrygespring het, is mnr. Dawid Richter, met wie mnr. Dax ’n slepende politieke geveg gehad het.
Die Swapo-hoofkwartier sou teen gister ook reeds van die besluit verwittig gewees het, maar weens die verkiesingsaak was dit nie moontlik om die Rehoboth-wending uit die hoofkwartier van die party in Windhoek te bevestig nie.