13.10.2009 CoD vul leë stadsraadsetel
 Die CoD se nuw verteeenwoordiger op die stadsraad van Windhoek, mnr. Nikolaas Burtze, aan die woord tydens ’n nuuskonferensie by die party se hoofkantoor in Katutura. Links is mnr. Ben Ulenga, president van CoD, en regs me. Kaveri Kaveri, CoD-lid in die Nasionale Vergadering.
DIE Congress of Democrats (CoD) het mnr. Nikolaas Burtze as die party se nuwe verteenwoordiger op die stadsraad van Windhoek aangewys.
Die posisie het vakant geraak nadat mnr. Herbert Schultz onlangs uit die party bedank het.
Die president van die CoD, mnr. Ben Ulenga, het mnr. Burtze tydens die aankondiging by die party se hoofkantoor in Katutura as ’n kampvegter van behoeftiges, dak- en stemloses bestempel. Hy het gesê mnr. Burtze sal nie eie belange najaag nie, maar deur die party daar wees vir diegene wat nie kan bekostig om munisipale diensrekeninge te betaal nie.
Mnr. Ulenga het die nuwe raadslid aangeraai om die CoD voor en na elke raadsvergadering vir raadpleging te nader.
By die nuuskonferensie is die party se verkiesingsmanifes ook amptelik bekendgestel. Die CoD spog dat hulle die enigste party is met gelyke verteenwoordiging van mans en vroue op hul kandidatelys vir die Nasionale Vergadering.
Mnr. Burtze het gesê die munisipaliteit van Windhoek ken hom al lank as ’n kampvegter vir die regte van die armes in Katutura en Khomasdal. Nou, het hy verseker, sal die stadsbestuur op raadsvlak met hom te doen kry.
Hy het benadruk dat inwoners van Windhoek nie sonder krag, water en ’n dak oor hul koppe kan klaarkom nie. Sonder dié basiese regte sal enige mens volgens mnr. Burtze onwaardig voel.
Hy het onderneem dat sy party se stem duideliker gehoor sal word deur sy bediening op die stadsraad en mense aangemoedig om in die komende verkiesings vir die CoD te stem.
Die woordvoerder van die CoD, mnr. Natjirikasorua Tjirera, het gesê dat die CoD met die bekendstelling van hul kandidatelys gereed is om in die komende verkiesing die land uit te lig van die heengaan waarin die Swapo-party dit gedompel het.
|