
Mnr. Tsudao Gurirab
DIE Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, word daarvan beskuldig dat hy met sy ministeriële toespraak oor die verkiesingshofsaak probeer het om die fundamentele regte van Namibiërs te ondermyn en onwettige optredes in die land aan te moedig. Mnr. Tsudao Gurirab van die Congress of Democrats (CoD) het Premier Angula se toespraak bestempel as niks anders as “’n kwalik bedekte aanval op die aansoekers wat die verkiesingsuitslag van die 27 en 28 November uitdaag”.
“Sy optrede spruit in elk geval uit politieke opportunisme, omdat die dispuut oor die verkiesings van vyf maande gelede handel en die aansoekers hierdie saak met die grootste omsigtigheid en verantwoordelikheid benader het. Hulle het hulself op ‘n wettige manier tot die howe gewend om die saak te beoordeel. Die proses duur voort wat selfs meer bygedra het tot ons verrassing” (oor die Premier se toespraak).
“Wat die Eerste Minister se party (Swapo) verkies het om te doen, is om die oogmerke van die aansoekers in die hof in twyfel te trek. Hulle het besluit dat om hul regte om verligting in ons howe te soek, ‘verdelend’ is en neerkom op iets wat nie patrioties is nie. Die enigste klag waarop die aansoekers skuldig pleit, is dat hulle wettig en op die behoorlike manier opgetree het,” het mnr. Gurirab gesê.
Hy het ook daarop gewys dat die nege opposisiepartye verligting in die Hooggeregshof sal soek na die uitspraak teen hulle in die Höerhof, maar dat die aansoekers en hul ondersteuners nie een keer die regters vir hul besluite gekritiseer en swartgesmeer het nie, anders as wat die Eerste Minister se party en sy frontorganisasies se tradisie geword het.