DIE Congress of Democrats (CoD) het Dinsdag aangekondig dat die party sy verkiesingsmanifes en partylys Saterdag op Mariental bekend sal stel.
Die party se streekstrukture het die afgelope maand hul kandidate demokraties aangewys en Dinsdag het die party se nasionale werkskomitee vergader om bykomende nominasies en die verkiesingsmanifes te hersien en voor die vergadering Saterdag te onderskryf.
Die president van die CoD, mnr. Ben Ulenga, het tydens die vergadering van die nasionale werkskomitee van die party gesê dat die land steeds in die greep van die ekonomiese knelling is met mense wat hul werk verloor en dat armoedige omstandighede in plakkerskampe en landelike gebiede heers.
“Baie van hierdie mense het toegang tot hul tradisionele grond verloor en het ’n behoefte aan grond as ’n hulpbron,” het hy gesê.
Hy het genoem dat hy tydens ’n onlangse besoeke aan Schlip, Oshivelo en Plaas Ses gesien het hoe die gemeenskappe aan wanvoeding ly en dat dit ’n skande is.
Gedurende die 2004-verkiesingsveldtog was die CoD ’n voorstander vir die implementering van die basiese inkomstetoelaag en sedertdien is die idee deur sommige kerke en werkersunies aangeneem.
Mnr. Ulenga het versoek dat die Regering die beleid moet implementeer in gebiede waar armoede erg voorkom en hy het gesê dat indien die CoD aan bewind kom, die beleid as ’n strategie geïmplementeer sal word om armoede te beveg.
“Dit is hoog tyd dat ons ’n regering kry wat ’n ekonomie kan volhou wat vir almal voorsiening maak en nie net vir ’n paar lede van Swapo se sentrale komitee nie,” het hy gesê.
Die CoD is van mening dat die Presidents- en parlementêre verkiesing in November vanjaar Namibiërs die geleentheid bied om vir ’n party te stem wat by sy mense staan en nie vir partye wat net ’n paar mense wil verryk nie.
“Ek twyfel nie dat die CoD daardie party is nie,” het mnr. Ulenga gesê.
Mnr. Ulenga het ook sy misnoeë uitgespreek oor die aanval wat mnr. Sam Nujoma op sekere rassegroepe, veral witmense, gemaak het en hy het gesê dat mnr. Nujoma eerder alle Namibiërs moes verenig en korrupsie beveg wat oral sy kop uitsteek.
“Die uitlating wat mnr. Nujoma gemaak het, soos dit in die media weergegee is, is onvanpas en moet ten sterkste veroordeel word,” het mnr. Ulenga gesê.
Hy het ’n beroep gedoen op Namibiërs wat voorstanders is van demokrasie, om die CoD geldelik te ondersteun deur ’n bydrae tot die party se verkiesingsfonds te lewer.
“Ons as ’n party benodig hulpbronne om ’n doeltreffende verkiesingsveldtog te voer,” het hy gesê.