
Klik op die foto om die hele grafiek oor die vlak van die Zambezirivier te sien.
INWONERS van die Caprivi-streek is reeds aangeraai om te versit voor die magtige Zambezirivier, wat gister by Katima Mulilo amper 50 cm dieper gevloei het as dieselfde tyd in die aanloop tot verlede jaar se groot vloed.
Volgens goewerneur Leonard Mwilima is reeds begin met logistieke reëlings om vloedkampe te heropen ná ’n taakspan op voetsoolvlak mense se behoeftes aan onderdak en voedsel gepeil het.
“Soos gewoonlik op hierdie tyd van die jaar verwag ons ’n vloed in hierdie deel van die land,” het hy oor die seisoenale verskynsel gesê.
Volgens mnr. Mwilima is raadslede en tradisionele leiers reeds versoek om gemeenskappe in laagliggende dele te bearbei om na hoër grond te trek.
Indien nodig sal alle hervestigingsentra wat laasjaar gebruik is volgens mnr. Mwilima weer mense huisves.
In 2009 was daar op ’n tydstip meer as 30 vloedkampe in Caprivi. Die Zambezirivier het laat in Maart verlede jaar eers weer by Katima Mulilo begin eb na ’n rekordhoogte van 7,85 meter bereik was.
Gistermiddag het die rivier reeds van die oggend se lesing van 4,33 m na 4,36 m aanhou opkruip teen sy walle. Die gewone gemiddeld vir 23 Februarie is 2,41 m, met ’n lesing van 3,91 m op dieselfde dag verlede jaar.
Volgens mnr. Mwilima is die nuwe streekkomitee vir ramprisikobestuur gereed om absoluut enige gebeurlikheid te hanteer.
“Ons is op die grond, besig om die situasie fyn te monitor. Niks sal aan die voorsienigheid oorgelaat word nie,” het die goewerneur verseker.