4.02.2010 Burgemeester steeds in grondtwis
’n GELEENTHEID vir die Swapodistrikskomitee op Tsumeb om ’n oplossing te vind vir die grondgeskil tussen die dorp se burgemeester, mnr. Engel Nawatîseb, en ’n voormalige Swapo-parlementslid, mnr. Nico Kaiyamo, het Maandag verlore gegaan toe die eerste burger aangedring het om die vergadering by te woon.
Die kwessie gaan nou vir ’n tweede keer met die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) opgeneem word nadat die Tsumeb dorpsraad nie die besluite van die Kommissie oor die betrokke erf uitgevoer het nie. Die Tsumeb-dorpsraad se toekenning van ’n erf aan mnr. Nawatîseb en Swapo se hoofkoördineerder, mnr. Armas Amakwiyu se maatskappy Vula Investment Holding sonder om die aansoek vir dieselfde erf van HNK Investment cc van mnr. Kaiyamo te oorweeg, was die vonk in die kruit.
Die uitvoerende direkteur van die ACC, mnr. Paulus Noa, het die munisipaliteit skriftelik in kennis gestel dat die raad die toekenning van die erf langs Shell op pad van Tsumeb na Katwitwi in Angola nietig moes verklaar. Die aansoeke van HNK Investment cc asook Vula Holdings moes dan op dieselfde sitting van die raad oorweeg word en dan sou die erf toegeken word.
Die raad het egter die advies van die ACC verontagsaam en met hul laaste sitting verlede jaar besluit dat die resolusie ten opsigte van die toekenning van die erf wel herroep word, maar dat die munisipaliteit die grond behou. Voorts moet ’n lewensvatbaarheidstudie nou gedoen word om die toekomstige ontwikkeling van die erf te bepaal.
Die raad het ook besluit dat indien die behoefte bestaan dat die erf verkoop word, dit op ’n veiling gedoen moet word. Maandagaand sou die kwessie voor die Swapo distrikskomitee op Tsumeb gedien het sodat hulle ten volle op die hoogte van die saak gebring kon word.
Mnr. Nawatîseb, wat nie ’n lid van Swapo se distrikskomitee is nie, het by die vergadering opgedaag en het ondanks besware teen sy teenwoordigheid daarop aangedring dat hy insit aangesien die komitee oor hom gaan vergader. Op dié noot is die vergadering verdaag en was mnr. Kaiyamo reeds gister terug in Windhoek.
|