SES maande nadat die teenwoordigheid van twee rondloperbuffels naby Okakarara tot die sluiting van digby 200 plase in die sentrale ooste gelei het omdat gevrees is bek-en-klou-seer kan uitbreek, het bemarking in die gebied opnuut tot ’n stilstand geruk.
Dit volg nadat ’n buffel Donderdag in die Otjituuo-omgewing opgemerk en dieselfde dag nog van kant gemaak is.
’n Bewegingsverbod van 21 dae is onmiddellik deur die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou afgekondig. Die Namibië Landbou- Unie (NLU) het sy lede gister hieroor ingelig.
Die verbod beteken geen diere met gesplete hoewe mag die kommunale boerderygebiede in die voormalige Hereroland of die kommersiële plase wat hieraan grens, verlaat nie.
Die kommunale gebiede wat geraak word, is Okakarara, Okondjatu, Otjituuo, Okamatapati, Gam, Otjinene, Epukiro, Otjombinde en Eiseb. Die bewegingsverbod geld ook vir kommersiële boere op plase in die Grootfontein-, Otjiwarongo-, Okahandja- en Gobabis-distrik wat direk teenaan hierdie kommunale gebiede of een plaas verder weg geleë is.
Plase elders in die land waarop beeste, skape, bokke of varke is wat uit die geslote gebied afkomstig is, word ook deur die bewegingsverbod geraak.
Intussen is alle veilings in Hereroland en die aangrensende plase opgeskort.
Die ondersoekspan bestaande uit beamptes van die direktorate Veeartsenydienste en Wildlewebestuur, vermoed die buffel is van die Waterberg Platopark afkomstig. Buffels in dié park is nie draers van die virus wat bek-en-klou-seer veroorsaak nie.
Die twee buffels wat verlede jaar die bek-en-klou-seervrye gebied binnegekom het, het wel die virus onder lede gehad. ’n Ondersoek het later gewys dié diere was van die Mahango-kerngebied van die Bwabwata Nasionale Park in Caprivi afkomstig.
Die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou sê in ’n verklaring bloeden orgaanmonsters van die buffel wat Donderdag geskiet is, word tans by die sentrale veeartsenylaboratorium in Windhoek ontleed.
Dr. Milton Maseke, hoof van die laboratorium, was nie gister beskikbaar om navrae in dié verband te beantwoord nie. Die verwagting is egter dat die uitslag van die toetse binne enkele dae beskikbaar sal wees.
Mnr. Paul Strydom, bestuurder van die Vleisraad, het gister gesê dit is jammer dat die vleisbedryf so gou ná die vorige voorval weer deur ’n bewegingsverbod geraak word.
Hy sê dit is belangrik dat produsente gehoor gee aan die noodmaatreëls, omdat dit getref is om die gesondheidstatus van diere in die boerderygebiede suid van die rooilyn te beskerm.
Strydom sê die kwessie van rondloperbuffels wat die diere se gesondheidstatus in die bek-enklou- seervrye gebiede bedreig, moet as ’n saak van dringendheid by die dieregesondheidsforum se volgende vergadering bespreek word.
“Ons moet maniere vind waarop beter beheer uitgeoefen word oor die toestand van die grensheinings tussen die bek-en-klou-seervrye sone en die noordelike kommunale gebiede. Olifante beskadig die heining en dit noodsaak voortdurende instandhouding, wat nie sonder geld en mannekrag moontlik is nie,” sê hy.
Die Ministerie het ’n beroep op produsente gedoen om geduldig te wees en hul samewerking aan veeartsenybeamptes te gee. “Hierdie voorsorgmaatreëls is nie net in belang van die landbougemeenskap nie, maar van Namibië in die algemeen.”