
Polisiebeamptes wat die kursus in gemeenskapspolisiëring by die Israel Patrick Iyambo polisiekollege volg. Die kursus word aangebied in samewerking met die regering van Botswana en is gister by die kollege deur die hoë kommissaris van Botswana, mnr. Norman Moleboge geopen
‘n KURSUS in gemeenskapspolisiëring word tans by die Israel Patrick Iyambo polisiekollege aangebied vir lede van die polisie, onder wie ‘n hoofinspekteur, agt inspekteurs, ses stafoffisiere en een sersant. Die kursus, wat in samewerking met die Botswana polisiediens aangebied word, is Woensdag amptelik geopen deur die hoë kommissaris van Botswana, mnr. Norman Moleboge.
Mnr. Moleboge het in sy toespraak gesê met misdadigers wat soos altyd strafmaatreëls probeer omseil, het die fokus verskuif na meer innoverende maniere van misdaadvoorkoming eerder as bekamping. Hy het gesê deur gemeenskapspolisiëring kan oortreders ontmoedig word, wat koste bespaar.
Hy het verder gesê die eweredige verspreiding van gesag, vertroue en die betrokkenheid van die plaaslike owerheid op gemeenskapsvlak is drie faktore wat nodig is om ‘n goeie vennootskap tussen die gemeenskap en die polisie te bou. Vier polisiebeamptes van Botswana is tans besig om die 13 Namibiese polisiebeamptes op te lei.
Die kursus het op 31 Maart begin en loop op 25 April tot ‘n einde. Genl.maj. James Tjivikua wat die aanwesiges ook toegespreek het, het ‘n ou Britse spreuk aangehaal wat lui “die polisie is die publiek en die publiek is die polisie”. Hy het gesê gemeenskapspolisiëring is ‘n strategie wat meer effektiewe misdaadbekamping, beter polisiediens en groter polisiewetlikheid gesteun deur gemeenskapsbronne, tot gevolg sal hê.
Dit sal meer verantwoordelikheid op die polisie plaas en ‘n groter openbare sê in besluitneming tot gevolg hê, asook groter ontsag vir siviele regte en vryhede. Hy het gesê vir die polisie om hul taak onafhanklik sonder gemeenskapsbetrokkenheid te verrig, is onmoontlik.
Om hierdie rede lê die uiteindelike verantwoordelikheid vir wetsgehoorsaamheid en orde by die publiek. Die geleentheid is voorafgegaan en afgesluit deur ‘n parade op die Israel Patrick Iyambo paradegrond wat bygewoon is deur al die afgevaardigdes.