13.01.2009 Boodskappe bots by Swapo-vergadering
POLITIEKE onverdraagsaamheid deur Swapo het ten spyte van die teenwoordigheid van Pres. Hifikepunye Pohamba, weer sy kop uitgesteek op Helao Nafidi in die Ohangwenastreek met die aanvang van die verkiesingsveldtog.
Swapo se koördineerder in die Ohangwena-streek, mnr. Nestor Shuukwanyama, het Saterdag op die vergadering waar Pres. Pohamba die hoofspreker was, gevra vir die afdanking van staatsamptenare wat nie die regerende party ondersteun nie.
Hy het weer die Swapo-ondersteuners versoek om besighede te boikot wie se eienaars opposisiepartye ondersteun. “Kom ons ondersteun die besigheidsmense wat Swapo ondersteun,” het mnr. Shuukwanyama gesê wat as voorsitter by die vergadering opgetree het.
Die boodskap bots regstreeks met dié van sy partyleier, Pres. Pohamba, wat vir die eerste keer Swapo-ondersteuners vermaan het om hulle nie aan politieke geweldpleging of enige vorm van aanhitsing teen ondersteuners van opposisiepartye skuldig te maak nie.
Die adjunk-sekretaris-generaal van Swapo, Minister Nangolo Mbumba, wat die President aan die toehoorders voorgestel het, het probeer om sy mede-ampsdraer se boodskap te versag. Hy het staatsamptenare versoek om in die belang van die land op te tree en die Regering van die dag te respekteer – ongeag of hulle die regerende party ondersteun of nie.
Mnr. Usko Nghaamwa, die goewerneur van die Ohangwena-streek, het die afgelope week voortdurend die NBC se Oshiwambo-diens gebruik om die Swapo-vergadering aan te kondig en om die goewerneurs en Swapo-leiers in naburige streke te versoek om hom “te hulp te snel.”
Mnr. Nghaamwa het op sy beurt teen verdeeldheid gemaan, maar gesê andersdenkendes is vry om die party te verlaat, net soos hulle vry is om terug te keer. “Diegene wat Swapo verlaat het voel tans eensaam.
Hulle sal altyd terug verwelkom word,” het hy gesê. Dit het ook aangesluit by Pres. Pohamba se beroep op afvalliges om weer na Swapo terug te keer. “Kom terug na jou natuurlike tuiste. Ter wille van die geskiedenis – ek herhaal – kom terug. Ek sê dit uit my hart uit,” het mnr. Pohamba gesê.
|