2.07.2009 Bokke se Leeustryd kry draai in strafhof
SPANNING met die opwellende Leeuloop het oorgespoel na die hoewes langs die Swakoprivier in ’n onderonsie wat nou weerklank in die landdroshof vind.
Die aangeklaagde is Jan Coetzee, ’n sakeman van Swakopmund. Hy verskyn op ’n klag van aanranding. Die klaer is Leonard Daniels (37), ’n onafhanklike motorwerktuigkundige op die dorp. Coetzee het verlede week in die plaaslike landdroshof op die aanrandingsklag verskyn.
Daniels herstel op sy beurt van beserings aan sy mond waarvoor steke gegee is, asook ontwrigting van ’n elmboog. Geen getuienis is met die eerste verskyning aangebied nie en die saak is tot 27 Julie uitgestel.
Daniels beweer sy armbeserings is sodanig dat hy weke lank nie sy vak sal kan beoefen nie. Ná die eerste verskyning word allerlei ondertone van rassisme aan die voorval gekoppel, beweringe wat blykbaar getoets sal word namate die hofverloop ontvou.
Volgens beskikbare inligting het Daniels in geselskap van nog ’n man die middag van die eerste rugbytoets tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus op die hoewe aangekom.
Daniels se metgesel wou blykbaar met Coetzee praat oor onder meer meubels wat daar bewaar word. Coetzee was blykbaar in sy tuin besig en het die TV-aanbieding van die rugbytoets gevolg toe die mans daar aangekom het.
Daniels se reisgenoot was met Coetzee in die huis en hy het buite gewag. Toe die mans uit die huis kom, het Daniels na bewering gegroet. Dit is na bewering met ’n hou beantwoord wat hom teen die mond getref het.
Daniels sou oor die hou gevra het, maar hy is aan ’n arm gegryp en ontwrigting het in die elmboog ingetree. Die arm is in ’n swaar hangverband en dit moet glo vir ses weke so bly.
Hierteenoor beweer Coetzee, ’n eerste beweerde oortreder, die mans het sonder verlof sy grond betree. Hulle kon hom die Maandag op kantoor kom spreek het pleks van 17 km na die hoewe te ry.
|