20.04.2006 Boer maak 'n plan
DIE Bateleur het geland en saam met hom genoeg brandstof gebring om die toerismesektor se ligte vliegtuigbedryf uit die penarie te red waarin hy hom voor die Pase bevind het.
'n Groep toeroperateurs op die lughawe Eros by Windhoek het verlede Donderdag hul geld gesit waar hulle monde was en die DC 6-Bateleur van Namibia Aviation Corporation Upington toe gestuur om sy tenks te gaan vul met Avgas, wat sedert 5 April nie in Windhoek beskikbaar was nie.
Die Bateleur, Namibië se unieke "koningin van die lug" word byna uitsluitlik vir toerisme-huurvlugte gebruik en is deur mnr. Chris Schutte tot so goed as nuut herstel ná hy die Fish Eagle 'n paar jaar gelede aan Red Bull verkoop het.
Omstreeks 16:30 Donderdag, kort voor die aanbreek van die langnaweek, het die eerste Avgas deur filtreerders uit die massiewe tenks van die Bateleur gevloei om die lugvaartbedryf in Namibië van 'n krisis te red.
Ná wat van mnr. Schutte van NAC verneem is, het die groep vliegtuigoperateurs, van Sefofane, Desert Air, Scenic Air, die Flight Training Centre en NAC kragte saamgesnoer om die bedryf uit die pekel te kry.
"Ons het om 10:00 Donderdag vertrek en 21 000 liter Avgas op Upington by Engen gaan inneem. Ons het voor die tyd daaroor onderhandel en dit is in 'n gees van samewerking gedoen," het hy gesê. Omstreeks 16:30 het die reus in Windhoek neergetryk en 17 500 liter Avgas is deur filters uitgetap om die kleintjies weer in die lug te kry.
Die noodmaatreël is getref met alle voorsorg denkbaar in gedagte en die reddingsgordel moes 'n toerismebedryf wat erg staatmaak op ligte vliegtuie uit 'n penarie red.
Gister was 'n syfer oor die totale verlies aan sake wat gevolg het op die Avgas-tekorte van die afgelope twee weke nog nie beskikbaar nie, maar dit kon derduisende Namibiese dollar beloop. Meer as een vliegtuigeienaar en toeroperateur was totaal gestrand toe BP se tenke op die lughawe Eros drooggeloop het en suieraangedrewe vliegtuie nutteloos op die grond moes bly staan.
Intussen is die einde van die brandstofkrisis op die horison.
BP, wat op die oomblik die enigste voorsiener van lugvaartbrandstof in die land is, kon gister aankondig dat die besending Avgas uit Durban na Botswana onderweg is en dat dit daarvandaan na Namibië gestuur sal word. Die besending is 45 000 liter, bykans genoeg om ligte suieraangedrewe vliegtuie vir 'n week in die lug te hou. Kort op die hakke van die besending volg nog 'n vrag en dit behoort Avgas-voorsiening te normaliseer, het me. Adélè Samuelsen gister aan Republikein gesê. Die verwagting was dat Avgas eers weer aan die begin van Mei vrylik beskikbaar sou wees, maar dié datum kon vervroeg word.
Die Namibiese krisis is aangevuur deur 'n onderhoudsluiting by die Durbanse raffinadery. Wêreldwye tekorte het gevolg na die enigste twee raffinaderye, in Durban en in Brittanje, moes sluit vir onderhoud. Die situasie is vererger deurdat net relatief klein hoeveelhede brandstof in Namibië gehou word en BP as die enigste voorsiener oorgebly het ná Engen verlede jaar sy depot op Walvisbaai tot niet gemaak het.
BP is nou besig met voorsieningsbeplanning om soortgelyke krisisse in die toekoms beter te kan hanteer. Nagenoeg N$5 miljoen word op die lughawe Eros bestee aan infrastruktuur wat onder meer berggeriewe vir 200 000 liter Avgas insluit.
BP voorsien ook alle brandstof op Ondangwa, Opuwa, Rundu, en verskeie ander kleiner lughawens in die land. Shell het steeds 'n teenwoordigheid aan die kus.
|