
Ambulanspersoneel van die Windhoekse nooddienste tel ’n swaar gewonde lid van ’n roofbende op om hom op die trollie op die voorgrond te plaas. Twee van die rower se makkers lê vasgeboei op die grond waar ’n skietgeveg gisteroggend tussen hulle en lede van die stadspolisie in Onafhanklikheidslaan in Windhoek losgebars het.
TWEE rowers is in die besige hoofstraat van Windhoek doodgeskiet en nog twee is gewond toe 'n skietgeveg helder oordag tussen die stadspolisie en 'n roofbende uitgebreek het. Nog drie bendelede is in hegtenis geneem. Die mans het omstreeks tien uur gisteroggend by ’n dobbelhuis in Onafhanklikheidslaan by die Ausspannplatz- verkeersirkel ingebars en die werknemers van die onderneming met pistole aangehou.
Volgens die hoof van die stadspolisie, mnr. Abraham Kanime, het die werknemers van die dobbelhuis aanvanklik geweier om die kluis oop te sluit. Die rowers het verskeie skote in die vertrek afgevuur wat lede van die stadspolisie wat daar naby op patrollie was, se aandag getrek het.
“Die bende kon daarin slaag om die kontantgeld te buit wat in die kluis toegesluit was. Voor die dobbelhuis het ’n taxibestuurder met sy wit Citi Golf in die straat vir hulle gewag en dit was hul plan om daarmee op die vlug te slaan.” Op die sypaadjie buite die dobbelhuis het die bende hulle in ’n koeëlreën van die stadspolisie vasgeloop.
Die bende het probeer om hul weg na vryheid oop te skiet en in die proses is drie van hulle taamlik ernstig gewond. Twee het in ’n noordelike rigting probeer weghardloop en een is op die hoek van Onafhanklikheidslaan en Venningstraat in die bors geskiet. Hy het op die toneel gesterf. Sy makker het om die hoek gehardloop en hy is in Talstraat in die kop gewond. Hy het later aan sy wonde beswyk.
’n Derde rower is voor die dobbelhuis taamlik ernstig gewond en paramedici het hom op die toneel gestabiliseer voor hy per ambulans na ’n hospitaal geneem is waar hy onder polisiebewaking in die intensiewe sorgeenheid vir sy skietwonde behandel word. Die taxibestuurder is in die lies gewond terwyl hy in die ontsnappingsvoertuig vir sy makkers gesit en wag het.
Lede van die Windhoekse ambulansdienste het hom ook op die toneel gestabiliseer voor hy vir mediese behandeling na ’n hospitaal geneem is. ’n Werknemer van die dobbelhuis het homself in die toilet van die dobbelhuis toegesluit en toe die polisie hom beveel om die deur oop te sluit, het hy geweier. ’n Waarskuwingskoot is afgevuur en die koeël wat deur die houtdeur gedring het, het die man lig gewond.
Die polisie het vasgestel dat die werknemer nie by die rooftog betrokke was nie. Twee ander lede van die roofbende is op die toneel in hegtenis geneem en hulle is na die polisiestasie geneem waar formele klagte teen hulle aanhangig gemaak is. ’n Derde rower is net na 17:00 gister in die dobbelhuis gevind en is ook toegesluit.
Honderde nuuskierige mense het op die toneel van die skietery saamgedrom. Verkeer deur die hoofstraat na en van die Ausspannplatz- sirkel is ontwrig en verkeersbeamptes het hul hande vol gehad om motoriste ander rigtings te laat inslaan.
Die hoof van die polisie se skakelafdeling in Windhoek, adjunkkommissaris Hophni Hamufungu, het bevestig dat een van die rowers op die toneel gesterf het en dat twee ander later taamlik swaar gewond is. Die een gewonde man het volgens komm. Hamufungu later aan sy wonde beswyk.
Die bedrag geld wat die rowers probeer buit het, kan nog nie bekendgemaak word nie. Verskeie banksakke vol munte wat in dobbelmasjiene gegooi word, het in die straat rondgelê waar die roofbende in hegtenis geneem is. Van die geldnote wat die rowers gebuit het, is uit hul broeksakke gehaal en beslag is op twee pistole gelê.