22.07.2008

Bloed spat by rugby


Johan Diergaardt
TWEE prominente figure in Namibiese rugby het elk ’n aanrandingsklag teen die ander gelê ná ’n bloedige vuisgeveg by ’n rugbyklub in Windhoek. Rassisme of rassistiese opmerkings was blykbaar die lont wat die bom laat bars en die vuiste laat klap het en gisteroggend is een van die twee summier in hegtenis geneem.

Dié voorval kom binne ’n week nadat die land se Ombudsman, adv. John Walters, ’n beroep op Namibiërs gedoen het om voorvalle van rassisme aan te meld – hetsy swart op wit of omgekeerd, en veral in sport, die arbeidsmark, in skole en op plase.

Die twee rugbyfigure wat nou handgemeen geraak het, is mnr. Johan Diergaardt, hulpafrigter van die Namibiese span en tot onlangs ’n nasionale keurder, en JM Meyer, die gereelde kaptein van Wanderers en haker van Namibië wat reeds twee maal by die Wêreldbekertoernooi was.

Maar wie werklik skuldig is en wat werklik gebeur het, sal maar in die hof beslis moet word, met Meyer en Diergaardt wat beide wyd uiteenlopende weergawes aan Republikein voorgehou het. Beide maak staat op “verskeie” ooggetuies om hul eie weergawes te staaf. Die uiteinde is dat Diergaardt van aanranding aangekla is en Meyer van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

JM Meyer
Meyer is gisteroggend in hegtenis geneem, maar op borgtog van N$600 vrygelaat. Diergaardt het gister tussen doktersafsprake deur telefonies met Republikein gepraat. Hy het harsingskudding opgedoen en moet vandag weer vir ’n breinskandering aanmeld. Diergaardt sê hy het niks teen Meyer nie en kon nie verklaar wat tot die voorval aanleiding gegee het nie.

Volgens hom was hy saam met twee van sy broers, George en Floris, in United se klubhuis ná die wedstryd tussen Wanderers en Unam. Toe slaan Meyer hom met ’n glas teen die kop, net daar waar hy op een plek die hele aand sit en kuier het. “Ek het geval, toe word ek geskop ook nog. Hulle het my net daar op die grond gelos om te lê en bloei. Ek het eers om middernag in die Katolieke hospitaal wakker geword. Ek het nie eens die aand met JM gepraat nie.

Ek kry die indruk hy het my dalk met een van my broers verwar en dat die moeilikheid só kon ontstaan het.” Volgens hom is Meyer se weergawe dat Diergaardt hom met die kop geslaan het, ’n leuen en ’n versinsel. Meyer se verhaal klink anders. Hy het nie Vrydagaand gespeel nie, maar was ná die wedstryd by sy spanmaats in die kleedkamer.

“Toe ek by die deur uitstap en Johan Diergaardt my sien, het hy my gevloek. Hy het nader gestap en sy arm om my skouer gesit en ’n tydjie met my gepraat en my verder sleggesê en gevloek. Hy het my vier keer met die kop geslaan voordat ek in selfverdediging opgetree het. Ek het hom weggestamp en een hou met die vuis geslaan.

Johnny Redelinghuys (stut van Wanderers) het my in bedwang gebring en my uit die klubhuis geneem, so ek weet nie wat verder met hom gebeur het nie.” Meyer sê hy self het ook “’n lekker hou” aan die voorkop weg waar Diergaardt hom getref het.