Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

5.02.2010

Beurse in ruil vir ’n werkspermit

© Republikein
Mnr. Samuel Goagoseb
HOE meer dae, hoe meer dinge by die Ministerie van Binnelandse Sake en Immigrasie.

Die jongste stok wat dié Ministerie in die wiele steek van buitelanders wat in Namibië woon en werk, is om van hulle te vereis om beurse aan Namibiese studente toe te ken alvorens hulle kan aansoek doen vir werk- of verblyfpermitte.

Een kleinsakeman, oorspronklik van Suid-Afrika en wat ’n gastehuis bedryf, het dié skokkende tyding gekry toe hy gaan aansoek doen vir ’n verlenging van sy verblyf- en werkpermitte. In die verlede moes hy elke twee jaar aansoek vir die hernuwing van sy permitte doen.

Dié keer is hy meegedeel dat ’n voorwaardelike verblyf- en werkpermit aan hom toegeken sal word wat vir ses maande geldig is. Hy kan slegs vir die tweejaarpermitte aansoek doen indien hy bewys kan lewer dat hy ’n beurs aan ’n Namibiese student beskikbaar gestel het. Hy vertel dat hy ’n klein onderneming het waar drie mense in diens is. Finansieel is dit net nie moontlik om ’n voltydse beurs te borg en winsgewend te wees nie.

Die permanente sekretaris van Binnelandse Sake en Immigrasie, mnr. Samuel Goagoseb, het by navraag verduidelik dat die Wet op Immigrasiebeheer daarvoor voorsiening maak dat die immigrasieraad voorwaardes vir die toekenning van werkpermitte kan stel.

“Ons het besef dat werkspermitte in baie gevalle toegeken word omdat die aansoekers aandui dat die vaardighede wat vereis word vir die pos nie in Namibië beskikbaar is nie. Dit het aan die lig gekom dat van die vaardighede wel in Namibië beskikbaar is.

“Daar is ook ’n voorwaarde dat kundigheid aan Namibiërs oorgedra moet word wat hulle in staat moet stel om die poste uiteindelik oor te neem. Ons het gevind dat in baie gevalle geen oordrag van kundigheid of vaardigheid plaasvind nie.

“Die raad het gevolglik besluit om werkspermitte nou vir ses maande toe te ken sodat werkgewers en aansoekers aan sekere voorwaardes kan voldoen. Dit is gevolglik maatskappye se korporatiewe verantwoordelikheid om beurse toe te ken aan Namibiërs vir vakgebiede waar daar ’n skaarste aan plaaslike vaardighede is, indien hulle in die verlede net buitelanders vir die posisies gewerf het,” het mnr. Goagoseb gesê.

In die geval van die gastehuiseienaar, sê mnr. Goagoseb die persoon moet na die Ministerie kom en sy individuele omstandighede verduidelik sodat gekyk kan word na maniere om ’n regverdige oplossing te vind, miskien nie deur ’n beurs toe te ken nie, maar indiensopleiding vir sy personeel te gee sodat hul vaardighede verbeter.

Wat die onlangse weiering van toelating tot Namibië van ’n Suid-Afrikaanse toeroperateur betref, sê mnr. Goagoseb die reëling betreffende buitelandse toeroperateurs wat in Namibië toere wil lei, is dat hulle by Fenata moet aansoek doen.

Die Federasie keur dan die aansoeke alvorens dit na die Namibiese Toerismeraad vir registrasie gestuur word. Die Suid-Afrikaanse toeroperateur is glo toegang tot Namibië met ’n bus vol toeriste geweier omdat te laat aansoek gedoen is.

Ná dringende samesprekings tussen die Namibiese Toerismeraad en die Ministerie is die saak egter opgelos en die toeroperateur en die toeriste is toegelaat om die land binne te kom terwyl na ’n langtermyn oplossing gesoek word.

“Dit is interessant om kennis te neem dat ons toeroperateurs nie toegelaat word om toere in nasionale parke in Botswana óf Suid- Afrika te lei nie. In Botswana moet toeriste fisies van die een bus na die ander oorklim om hul toere verder voort te sit.

“Namibië was tot nou toe uiters mededeelsaam om buitelandse toeroperateurs toe te laat om plaaslike toere te lei. Ons is in onderhandelinge met die Suid-Afrikaanse owerhede oor die saak, want op die oomblik is daar geen sprake van wederkerige behandeling van ons toeroperateurs in ons buurstate nie,” het mnr. Goagoseb gesê.