
Mnr. De Wet Esterhuizen, assistent-adjunkbalju, probeer oorhandig die uitsettingsbevel aan die betogers voor die Ministerie van Veteranesake kort voor hy dit voor hulle op die grond neergegooi het. Die bevel is hierna deur die betogers opgeskeur.
DIE Hoërhof het die sowat 90 oorlogskinders wat al byna drie maande voor die Ministerie van Veteranesake plak, gister aanvanklik tot net 17:00 gegee om hul tenthuise op te slaan of deur die balju en polisie verwyder te word.
Teen saktyd het die polisiebevelvoerder vir die Khomas-streek, komm. Samuel //Hoëbeb, egter benadruk dat daar geen optrede teen dié langasem betogers sal volg voor ’n vergadering vanoggend met die Inspekteur-generaal van Nampol, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, self nie.
Omdat die uitsettingsbevel eers baie laat op die jeugdige stryders bedien is, het komm. //Hoëbeb gesê hy het nie genoegsame bystandsmagte om op te tree as dit nie regtig ’n krisis is nie. Net ná 16:00, toe die hofbevel uiteindelik op die groep bedien is, het dit klaar gelyk of net die kleinste vonkie hierdie kruitvat al te maklik kan laat ontplof.
“Vat jul papiere terug! Hoekom wou die hof nie na ons luister nie?” is ’n assistent-adjunkbalju grof toegesnou voor hy die hofdokument voor die groep op die grond neergegooi het omdat hulle dit nie wou ontvang nie. Hierop het die betogers die bevel onder die oë van die polisie stukkend geskeur. Ná die uitspraak het een van hulle in die hof geskreeu dat hy en sy kamerade net oor hul dooie liggame hul loopgrawe sal verlaat.
“Ons gaan nêrens heen nie,” het hul aanvoerder, mnr. Salomon Shinedima, bevestig. As die polisie wel sou opdaag, het hy gesê sal hulle hulself net verdedig as die sambokke en pepersproei dalk uitgehaal word. Eintlik wou TransNamib se regspan die betogers al om 13:00 – maar net ’n uur en 45 minute nadat die bevel in beginsel toegestaan is – vort hê.
Regter Nate Ndauendapo het egter dadelik die leisels ingetrek en vir ’n redeliker spertyd gevra. “Hulle het darem reëlings om te tref,” het hy aan adv. Sakeus Akweenda, wat optree namens die karweier, gesê. Die hofstryd self was binne ’n skrale driekwartier verby. Mnr. Shinedima se oënskynlike gebrek aan begrip van wat die woord “opponeer” beteken, was die eerste spyker in die doodkis van die betogers.
Toe hy aanvanklik na die getuiebank geroep is, het hy gesê hulle staan nie die aansoek teen nie. Feitlik onmiddellik wou hy egter ook ’n tolk hê. Die hof moes hiervoor sowat ’n halfuur verdaag, en later vir ’n ewe lang pouse, toe Regter Ndauendapo aangedring het op skriftelike bewyse dat die karweier die wettige eienaar van die beleërde perseel is.
Hierdie dokument was volgens hom op sigself genoeg om die aansoek toe te staan. Adv. Akweenda het aangevoer dat die “persvrystelling” wat die groep Maandag geliasseer het (sien berig op bl. 6) ondanks die hof se diskresie en die grondwetlike reg om gehoor te word, “darem net te ver buite die reëls val” om as verdediging te dien.
“Hoekom moet ek ’n eed aflê?” wou mnr. Shinedima later bars weet. Hy het ook gesê hy was nog nooit in ’n hof nie en verstaan nie dié hoë taal nie. “Nou is dinge maklik,” het dr. Akweenda opgemerk ná mnr. Shinedima “ek verstaan” geantwoord het op beide Regter Ndauendapo se vrae of hy besef dat die karweier die eienaar van die gebou en die Ministerie van Veteranesake net ’n huurder is.
Die enigste ander vraag wat die Regter gehad het, was of die resolusie deur TransNamib se direksie ’n dringende uitsetting regverdig. Dr. Akweenda het daarop gewys dat dié besluit “wat ook anders nodig is” regverdig. Die uitsetting en tussentydse interdik teen enige soort inmenging, onwrigting, teistering of opruieryng is geldig tot die oorspronklike siviele geding afgehandel is. Regter Ndauendapo het gesê dit is die betogers se plig as “wetsgehoorsame burgers” om die hofbevel te eerbiedig.
“As jy ’n vrou na jou huis of nedersetting bring,” wou mnr. Shinedima egter al voor dit met ’n metafoor van die hof weet, “en daar is ’n misverstand tussen jou en jou vrou, sal jy na die hoofman gaan om die vrou uit jou huis te jaag?” Voor hy weer kon aanvoer dat TransNamib niks met die krisis uit te waai het nie, is hy egter summier gestuit.
Uiteindelik is verrigtinge verdaag terwyl mnr. Shinedima nog met ’n “dit is onduidelik” probeer aandring het dat hy nog nie klaar is nie. Die aanvanklik goeie dissipline in die stampvol hof het hierop verander in oogluikende opstandigheid, met party betogers wat wild vinger geswaai het voor hulle buite luidrugtig strydliedere begin sing het.