Betekenis van respek

OUERS asook onderwysers het 'n groot verantwoordelikheid om hul kinders die betekenis van respek vir hul seniors te leer.
So sê mnr. Jurie Viljoen, die NV-lid van die Monitor Aksie Groep. Hy het verlede week deelgeneem aan die debat oor die nasie se moraliteit veral wat respek teenoor bejaardes en die maatskaplike verpligting teenoor hulle betref. Dié mosie is deur Peya Mushelenga, 'n Swapo-agterbanker, ingedien.
Met verwysing na die vyfde gebod in die Bybel, wat lui: "Eer jou vader en jou moeder...," sê mnr. Viljoen dit beteken meer as net 'n mens se biologiese ouers. "Hierdie gebod het 'n verdere betekenis. 'n Mens moet bejaardes, jou onderwysers, die owerheid, die president van die land, die regering van die land en al jou seniors asook die wette wat deur hulle gemaak is, eer.
"Deur die vyfde gebod te gehoorsaam, is ons op die drumpel van moraliteit. Wanneer 'n mens met 'n kind se opvoeding by hierdie punt begin, belê mens in 'n gebalanseerde mens wat nie net respek aan diegene bo hom sal betoon nie, maar ook self as 'n mens gerespekteer sal word. As 'n mens jou kind grootmaak met hierdie beginsels van respek vir jou as 'n ouer en al die ouer mense en die owerheid, sal hy eendag die nodige respek betoon. Ouers speel die mees belangrike rol in hul kinders se opvatting van respek vir die owerheid," sê mnr. Viljoen.
Hy meen ook dat wanneer ouers en kinders die onderwysers van 'n skool op 'n negatiewe wyse bespreek of wanneer 'n ouer sy kind bystaan om 'n klag aanhangig te maak wanneer 'n skoolhoof tydelik op 'n kind se selfoon beslag lê of wanneer ouers die gedrag van hul kind wat indruis teen aanvaarbare norme goedkeur, is hulle besig met 'n gevaarlike spel. Dit is onafwendbaar dat daardie kind in die toekoms op die een of ander wyse met die owerheid sal bots.
"Ek dink 'n gebrek aan dissipline, veral op skoolvlak, het 'n punt van groot kommer bereik. Die gees van ongedissiplineerdheid en 'n gebrek aan respek vir die owerheid het oorgespoel na ons leefplekke.
"Eer jou vader en jou moeder, die bejaardes en die owerheid van jou land," het mnr. Viljoen gesê.