17.02.2011 Belmark wyer oop
DANKSY ingryping deur Namibië se waghond vir die telekommunikasiesektor moet selfoonoperateurs vanaf 1 Maart alle “straffooie” afskaf wat bellers ontmoedig om oproepe na mededingers se netwerke te maak.
Sodra oorblywende regsprosesse voltooi is, sal diensverskaffers verplig wees om dieselfde prys vir oproepe op hul eie netwerke as vir klingels na ander selfnetwerke en landlyne te vra.
Volgens mnr. Joël Kaapanda, Minister van Inligting en Kommunikasietegnologie, staan die beskerming van verbruikers en die aanmoediging van gesonde kompetisie sentraal in die revolusie.
“Verbruikers gaan groot baat,” het die Minister benadruk. “Ons probeer die telkombedryf ontwikkel.
“Maatskappye kan nie net groot winste maak en van die verbruiker vergeet nie,” het mnr. Kaapanda gewaarsku.
“Verbruikers moet die buigsaamheid van keuse hę.” Leo het die beslissing deur die Namibiese Kommunikasiekommissie (NCC) by navraag met ope arms verwelkom
“Hierdie is ’n belangrike mylpaal om die speelveld gelyk te maak,” het mnr. Stanley Similo, leo se segsman, gesę. MTC sal die grootste prysaanpassings moet maak, terwyl Telecom Namibia in ’n mindere mate dalk aan sy pryse sal moet skaaf.
Mnr. Tim Ekandjo, woordvoerder van MTC, wou nie gister kommentaar lewer nie. Hy het egter erken dat hierdie inderdaad ’n “baie groot” besluit is.
“Ons herkou die saak nog,” het mnr. Ekandjo gesę. In praktyk, voer mnr. Similo aan, is die monopolie waaraan MTC deur hierdie “klubvorming” vasklou, effektief daarmee heen.
“Die tyd toe kliënte in een netwerk opgesluit is met uitspattige tariewe is verby,” het hy gesę. “Vir die regverdigheid veg ons al lank.”
Volgens mnr. Similo betaal bellers met MTC Tango in gevalle van 70 sent tot N$1,50 – of 150 persent meer om met vriende en familie op leo se netwerk te klets, terwyl leo al vanaf laat verlede jaar net 99 sent vir oproepe na enige netwerk vra.
Die “vreesfaktor” dat jou foon nie meer sal lui as jy by ’n ander, goedkoper verskaffer aansluit nie, was volgens hom ’n reusestruikelblok in leo se stryd om sy markaandeel uit te brei. In die nuwe bedeling sal leo dus sy kliëntebasis van sowat 280 000 mense veel vinniger nader aan MTC se geskatte 1,5 miljoen bellers kan druk.
Volgens leo was die NCC se opdrag ’n logiese uitvloeisel van Namibië se waterskeidingsbesluit in 2009 om interkonneksietariewe stelselmatig tot voordeel van die verbruiker af te dwing.
Sedert Januarie is die tarief net 30 sent – en volgens mnr. Similo is daar ruimte vir ’n verdere verlaging. ’n Verhoor het twee weke gelede plaasgevind waar alle operateurs die kans gegun is om hul saak te stel.
Verlede Woensdag het die NCC die voorgenome wysiging in lisensievoorwaardes onderskryf. Net spesiale tariewe vir bellers in dieselfde instelling of maatskappy is van die bevel uitgesluit.
“Die gees van die lisensie is regverdige mededinging,” lui die NCC se motivering vir sy besluit.
“Lisensiehouers word nie toegelaat om in teen-mededingende praktyke en teen-mededingende kruissubsidiëring betrokke te raak nie. Sonder objektiewe kosteverskille bestaan geen rede om met kleinhandelpryse teen ander netwerke te diskrimineer nie.”
Volgens die NCC ondermyn die praktyk nie net gesonde kompetisie nie, maar ook “verbruikerswelsyn.”
Die waghond sal reaksie op die nuwe reëls met ’n arendsoog dophou, sou operateurs hul netwerke op nuwe maniere probeer afkamp. Indien wel, sal die NCC nie skroom om in te gryp nie.
Vandat die voorgenome wysiging in die Staatskoerant verskyn het, sal twee weke tyd vir openbare kommentaar en vrae gegun word.
Operateurs moet teen 7 Maart nuwe tariefskale aan die NCC vir goedkeuring voorlę.
|