16.03.2010 Bekendes sterf in Noorde
DIE Noorde is die naweek deur twee hoë profiel sterftes geskud toe mnre. Laban Hamata en Henock Ismael afsonderlik weens natuurlik oorsake dood is.
Mnr. Hamata (79) was tot sy aftrede kort ná onafhanklikwording die hoof van die NBC se Oshiwambo-diens op Oshakati. Hy is daarna verkies as die sekretarisgeneraal van die DTA en was tot 2004 die enigste DTA-lid in die Ongwediva dorpsraad.
Wyle mnr. Hamata is Vrydag in die Sentrale Hospitaal in Windhoek na ’n lang siekbed dood. Hy laat sy vrou, Saima, kinders en kleinkinders agter.
• Wyle mnr. Henock Ismael, ’n bekende in Swapo-kringe en broer van mnr. Joseph Ismael, ’n gerespekteerde sakeman van Oshakati, het Vrydag gesterf. Wyle mnr. Ismael was toe nog ’n werknemer van CDM (nou Namdeb) toe hy jare gelede in ’n motorongeluk verlam is. Hy was tot met sy dood tot ’n rystoel beperk.
Finale begrafnisreëlings vir beide is nog nie bekend gemaak nie.
|