DIE nasionale begroting sal vanjaar aansienlik vroeër ter tafel gelê word. Dit volg nadat talle klagtes in die verlede ontvang is oor begrotings wat te lank sloer nadat dit ingedien is.
Tydens gister se sitting van die Nasionale Vergadering, het die Minister van Finansies, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, kennis gegee dat sy reeds komende Dinsdag die begroting ter tafel sal lê.
“Die voorlegging van die wet is om die gepaste hoeveelheid geld vir die staat toe te wys om aan die finansiële vereistes te voldoen vir die volgende boekjaar wat op 31 Maart 2013 eindig,” het sy gesê.
Die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, mnr. Nangolo Mbumba, het ook kennis gegee van ’n wetsontwerp oor korrektiewe dienste. “Dit maak voorsiening vir die vestiging van die Namibiese korrektiewe dienste, sowel as vir aangeleenthede wat daarmee verband hou,” het Mbumba gesê.