25.07.2008 Bedrieër weer in hof
DIE klagtedossier van ’n geslepe bedrieër wat, ondanks die feit dat hy agter slot en grendel sit, met die hulp van ’n selfoon in staat was om mense van hul geld te besteel, is besig om al dikker te raak namate meer slagoffers van Pieter Eiseb na vore tree. Eiseb is ’n verhoorafwagtende in ’n bedrogsaak wat sowat twee weke gelede opspraak gemaak het toe hy in minstens twee gevalle daarin geslaag het om mense met sy slenter te vang.
Sy doen en late het bekend geword toe ’n Namibiese egpaar wat in Angola woon en werk, Republikein genader het om hul landgenote te waarsku om nie ook in die man se strik te trap nie. ’n Tweede persoon het die berig gelees en hy kon daarin slaag om die geld wat hy in ’n bankrekening gedeponeer het, terug te kry.
Een van Eiseb se medewerkers buite die tronkmure het in die tweede geval toegesien dat die swendelaar deur sy eie slap riem gevang is en meer klagte van bedrog is teen hom aanhangig gemaak. Hy het reeds op twee nuwe klagte van bedrog ’n verskyning in die landdroshof in Katutura gemaak. Intussen het nog twee slagoffers van Eiseb hul klagte by die dossier gevoeg en hy het Woensdag in die landdroshof in Windhoek op van die klagte verskyn.
Saam met hom in die beskuldigdebank was Ri- chard Goagoseb en soos met hul vorige verskyning sowat twee weke gelede, het die beskuldigdes aangedui dat hulle self hul regsverteenwoordigers gaan aanstel. Mnr. Linus Samaria het namens die staat versoek dat borg aan Eiseb geweier word. Ten opsigte van beskuldigde nommer twee, Goagoseb, is borgtog van N$1 000 toegestaan.
Op versoek van die staat het landdros Elsie Schickerling die saak tot 12 Augustus vanjaar uitgestel. Eiseb moet op die dag ook op ’n ander klag van bedrog verskyn en is gelas om tot die volgende hofdatum in aanhouding te bly. In sy werkwyse gebruik die beskuldigde die kleinadvertensiekolomme van koerante. Hy slaan toe op mense wat na iets te koop of te huur soek en gee dan voor dat hy ’n plaaslike agent of werknemer van ’n ryk Duitse sakeman is.
Op dié wyse wen hy die vertroue van sy slagoffers en omdat hy ’n meester van stemnabootsing en verskillende aksente is, lei hy hulle verder om die bos. Sy slagoffers word dan gewoonlik versoek om taamlike groot bedrae geld in die een of ander bankrekening te deponeer sodat die verlangde diens gelewer kan word. Ná die inbetaling gedoen is, onttrek medewerkers van Eiseb die geld en dit verdwyn spoorloos.
|