
Mnr. Phil Ya Nangoloh.
ERNSTIGE bedenkinge oor die verkiesingsproses en of dit wel as vry, regverdig en deursigtig beskou kan word, is deur sowel die Namibiese Vereniging vir Menseregte (NSHR), as die Rally for Democracy and Progress (RDP), uitgespreek.
Mnr. Phil Ya Nangoloh van die NSHR het verlede week op ’n nuuskonferensie gesê die NVM het verskeie voorbeelde gevind van growwe onreëlmatighede aan die kant van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN).
Voorbeelde hiervan is die uitreik van duplikaat kieserskaarte, die insluiting van oorledenes van wie sommige vooraanstaande en bekende mense is op die kieserslys, registrasie van kiesers ná die sperdatum waarop bykomende registrasie gesluit het; die registrasie van mense jonger as 18 jaar as kiesers en bewyse dat daar meer mobiele stempunte in sekere streke is as vaste punte.
Die voorbeeld van die Omusati-streek waar altesaam 172 mobiele stempunte is teenoor die 146 vaste punte word genoem. Hierbenewens vra die NVM vir ’n eendag-verkiesing, die ouditering van stembusse, dat kieserskaarte gepons moet word en dat ’n einde gemaak word aan aangebode stemme, die stelsel waarvolgens mense met behulp van geswore verklarings van kennisse kan registreer en die uitreiking van dubbel en selfs driedubbele kieserskaarte.
Die president van die RDP, mnr. Hidipo Hamutenya, het op sy beurt gesê die herhaalde weiering van die ECN om enige vrae van die RDP oor die kieserslys te verskaf, is óf ’n teken van loutere onbevoegdheid óf ’n moedswillige poging om die proses te manipuleer.
Hy het ook die voorbeeld van die besturende direkteur van Namibia Wildlife Resorts, mnr. Tobie Aupindi, genoem wat ná die sperdatum vir bykomende registrasies, gaan registreer het. Die RDP dring daarop aan die ECN-direkteur die kieserslys moet skoonmaak of geskors word omdat ’n bevooroordeelde persoon nie aan die stuur van sake by die ECN geduld kan word nie.
Mnr. Hamutenya sê mnr. Moses Ndjarakana is ’n voltydse staatsamptenaar wat ’n salaris van die staat ontvang, maar dit is duidelik dat hy nie bevoeg is vir die werk nie. “Hy maak ’n grap van ons demokrasie,” het hy gesê.
Mense wat nog nie 18 jaar oud is nie, se name moet onmiddellik van die kieserlys verwyder word. Die RDP doen ook ’n beroep op die internasionale gemeenskap, veral diegene wat in Namibië is as verkiesingswaarnemers, om waaksaam te wees vir hierdie onreëlmatighede wat nou aan die lig kom en daarop moet wys dat Namibië se demokrasie bedreig word.
Mnr. Hamutenya beskou die groot aantal mobiele stempunte in veral Omusati as duidelike teken van pogings deur die ECN om verkiesingsbedrog te pleeg.