24.09.2009 Bank oor skenking aan Swapo
DIE Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) is ’n onafhanklike entiteit met sy eie mandaat. ’n Groot deel van die mandaat is om ontluikende sakeondernemings te ondersteun.
Projekte wat deur die bank gefinansier word, verteenwoordig ’n breë spektrum van alle vlakke van die Namibiese samelewing wat sonder twyfel verskillende politieke affiliasies het.
So sê die hoof uitvoerende beampte van die DBN, mnr. David Nujoma, in ’n verklaring in reaksie op skerp kritiek teen die bank se finansiering van ’n onderneming op Oshikango wat onlangs ’n skenking van verkiesingsmateriaal aan Swapo gemaak het.
“Die DBN het Oshikango Plastics se deelname aan Fatima Plastics gefinansier, wat huishoudelike plastiekware vir uitvoer op Oshikango vervaardig,” het mnr. Nujoma gesê.
“Oshikango Plastics word besit deur voorheen benadeelde Namibiërs en finansiering is aan die maatskappy beskikbaar gestel om ’n 30 persent aandeelhouding in Fatima Plastics te bekom,” sê hy.
Hy wys daarop dat die geld wat deur die DBN beskikbaar gestel is, herbelê is in die onderneming om roumateriaal en bykomende toerusting aan te skaf.
Fatima Plastics het 92 Namibiërs in sy diens by die fabriek.
Ingevolge sy leningsbeleid, finansier die DBN net plaaslik geregistreerde maatskappye en nie buitelandse maatskappye nie.
Die bank het Oshikango Plastics se aandeelhouding in Fatima Plastics gefinansier, in ooreenstemming met die leidende beginsel wat waardetoevoeging en uitvoergerigte ondernemings binne Namibië se grense ondersteun.
“Ons skryf nie voor hoe winste van die maatskappy gebruik moet word nie, behalwe om te verseker dat die onderneming ten eerste lewensvatbaar is en dat die leningsbedrag terugbetaal word,” sê mnr. Nuyoma.
Hy het ook daarop gewys dat die skenking deur Fatima Plastics en nie Oshikango Plastics, die ontvangers van die DBN-finansiering, gemaak is nie.
|