8.03.2010 Baba verdrink in plaasswembad
’n MEISIE van skaars 15 maande het die verlede week op ’n plaas buite Kamanjab verdrink. “Skaars ’n baksteen hoog en nog maar eintlik ’n baba”, word klein Jessie (Jesica) Louw deur vriende beskryf. Jessica het Dinsdag aanvanklik ewe rustig tussen die familielede op die plaas rondgespeel.
’n Tydjie daarna is haar liggaampie in die swembad opgemerk. Sy was reeds dood. Jessica was die jongste kind van Dederick en Alfie Louw van Outjo. Dedrick is die eienaar van Rhino Truck op Outjo. Die egpaar het nog twee kinders, ’n ouer dogtertjie Casandra en ’n seuntjie Durand.
Klein Jessica laat ook twee oumas en ’n oupa agter. Juliana en Hans Louw was vir jare bekendes in die Tsumeb-, Gootfontein- en Kombatomgewing en die ander ouma, Frieda von Pelser (de Sousa), is van die kus. Jessie is Vydagoggend op Outjo begrawe.
|