25.07.2008

Avid-verhoor weer uitgestel


Inez Gases
DIE blootlegging van besonderhede van die klagte teen mnr. Paulus Kapia en ses ander beskuldigdes in die Avid-beleggingskandaal het opnuut die vasstel van ’n verhoordatum in die Hoërhof gekortwiek. Mnr. Sisa Namandje het, soos met die vorige voorverhoorverrigtinge, in sy betoog uitgevaar teen die staat omdat verdere besonderhede oor die klagte teen sy kliënt nie beskikbaar gestel is nie.

Hy het aangedui dat hy voor 18 September ’n hofaansoek sal bring om die staat te dwing om die blootlegging moontlik te maak. Die regsverteenwoordiger van mnr. Ralph en me. Sharon Blaauw, asook mnr. Otniël Podelwitz het aangedui dat hy sy aansoek om die blootlegging van besonderhede af te dwing, by dié van mnr. Namandje gaan voeg.

Ralph Blaauw
Mnr. Kapia, me. Inez Gases, mnr. Podewiltz, mnr. en me. Blaauw, mnr. Mathias Shiweda en mnr. Nico Josea staan op klagte van bedrog, verskeie oortredings van die Maatskappywet – waaronder een van die lewering van valse getuienis tydens ’n verhoor – en klagte van korrupsie tereg. Met die vorige verrigtinge in die Hoërhof het adv. Danie Small namens die staat aangevoer dat hy sover moontlik struktuur aan die uitruil van besonderhede wil gee.

Mnr. Namandje het aangevoer dat die struktuur soos voorheen uiteengesit, nie voldoende is nie en dat hy gevolglik ’n aansoek om blootlegging na die hof gaan bring. Mnr. André Louw, die regsverteenwoordiger van mnr. Josea, het op sy beurt ’n brief aan Regter Parker oorhandig waarin sy kliënt hom as regsverteenwoordiger afdank.

Mathias Shiweda
In die brief voer mnr. Josea aan dat hy nie kan bekostig om sy eie regsverteenwoordiger aan te stel nie en dui hy aan dat hy vir regshulp gaan aansoek doen. Voorts het die beskuldigde aangedui dat hy dit sou verkies as mnr. Louw deur die staat as sy regsverteenwoordiger aangewys kan word. Mnr. Imanuel Ueitele het ondanks die feit dat hy moontlik as getuie in die verhoor geroep kan word, namens me. Gases opgetree.

Regter Parker was genoodsaak om ’n herhaling in die kiem te smoor wat by die vorige voorverhoor ten opsigte van mnr. Shiweda oor artikel 119 van die Strafproseswet gevoer sou word. Die argument sou ’n herhaling van mnr. Richard Metcalfe se betoog wees en Regter Parker was nie bereid om weer daarna te luister nie. Die volgende voorverhoorverrigtinge is vir 18 September vanjaar geskeduleer, die beskuldigdes se borg is verleng en hulle is gewaarsku om op die datum weer in die hof te verskyn.