Asab: spookdorp bied nie eens brandstof

ASAB, eens ‘n gewilde plek vir boere in die Gibeon en Berseba kommunale gebiede om by aan te doen, het tot stilstand gekom. Die gehuggie trek ook lankal nie meer die aandag van motorryers en vragmotorbestuurders langs hierdie belangrike hoofroete nie. Asab, wat in Nama-taal “nuwe ding” beteken en wat deur die kinders van weleer in die gebied as “nuwe ding wat nie sal oud word nie” (/Oro tite /Asab) gedoop is, se dienste bestaan vir die afgelope drie jaar nie meer nie.

Die plekkie wat op die B1-hoofpad ongeveer 103 km suid van Mariental en 130 km noord van Keetmanshoop geleë is, het in die verlede ‘n inkoopsentrum met ‘n winkel, drankwinkel, ‘n vulstasie en ‘n hotel gehad. Die eiendom behoort aan die Regering en val onder die Ministerie van Werke, Vervoer en Kommunikasie. Die inwoners van die omgewing beweer dat sedert die plek drie jaar gelede deur nuwe eienaars oorgeneem is, dit ‘n neiging tot agteruitgang getoon het.

Dit word beweer dat werkers wat daar was en wat meestal van Gainaxas afkomstig was, selfs met werkers van Berseba vervang is. Aanvanklik het die plek aan Southern Namibia’s Farmers Union (Snafu) behoort, maar dit is in 2002 weens agterstallige skuld op ‘n geregtelike veiling verkoop. ‘n Jaar later het mnr. N.J. Motinga met die balju wat op die plek beslag gelê het, vir die gebruik daarvan onderhandel. Na ‘n ooreenkoms aangegaan is, is die plek deur mnr. Motinga oorgeneem.

Dit was glo in ‘n toestand van verwaarlosing, maar hy het dit glo in ses maande tot ‘n aanvaarbare vlak verbeter. Mnr. Motinga het gesê dat hy destyds deur mnr. Dawid Boois, die huidige goewerneur van Karasstreek, ingelig is dat hy geld iewers bekom het om die Asab-handelsentrum te bedryf. Mnr. Boois het hom gevolglik gesoebat en versoek dat hulle kragte moet snoer om die sakegeleenthede van die handelsentrum gesamentlik te benut.
Hy het ingestem, maar na die kontrak met die Ministerie van Werke, Vervoer en Kommunikasie onderteken is, vasgestel dat hy nie ‘n lid van die raad van direkteure of ‘n aandeelhouer van Mukorob Trading Centre, die nuwe naam, is nie. Nietemin het hy voortgegaan om die onderneming vir vyf maande te bestuur en het elke week ‘n verslag ingedien.

Hy het gesê probleme het tussen hom en mnr. Boois ontstaan toe laasgenoemde sonder om hom te raadpleeg en in sy afwesigheid geld van die handelsentrum aan mense geleen het. Mnr. Motinga sê hy het besluit om te bedank en het die diensstasie op Asab wat diesel en petrol verkoop het en ‘n wins van ongeveer N$75 000 getoon het, winkelvoorraad van ongeveer N$45 000 en die drankwinkel met ‘n voorraad van N$35 000 agtergelaat.

Die telefoonrekening van die Mukorob Trading Centre was glo steeds in sy naam geregistreer en uitgawes van tussen N$4 000 en N$5 000 is glo deur mnr. Booishulle op die telefoonrekening aangegaan. Die rekening is aan hom gestuur en Telecom Namibia het hom aan ‘n balju oorhandig vir die verhaling van die skuld. Die kwessie het ‘n turksvy tussen hom en mnr. Boois en ander direkteure van Mukorob Trading Centre geword, want hulle wil ook nie pa staan vir die telefoonrekening nie.

“Daar kom nog ‘n eis teen Booishulle,” het mnr. Motinga gesê. Huidig het skuld van N$171 600 oor 44 maande weens wanbetaling van huurgelde opgeloop. Mnr. Stephanus Goliath, gewese goewerneur van die Karasstreek en ‘n aandeelhouer van Mukorob Trading Centre, wou by navraag nie kommentaar oor die uitstaande skuld van Asab lewer nie aangesien die betrokke partye in die konsortium nie die situasie bespreek het nie.

Intussen het die raadslid van die Gibeon-kiesafdeling, mnr. Karel Kisting, aan wie se kiesafdeling die handelsentrum op Asab voortaan deur die streekraad van Hardap verhuur gaan word, aan Republikein gesê die plek gaan in ‘n landelike ontwikkelingsentrum omskep word. Daar is glo planne om geld te bekom vir die opknapping van die handelsentrum sodat die brandstofdiensstasie en die winkel wat in goeie toestand is, kan voortgaan om diens aan die omliggende kommunale boere en verbygaande motoriste te lewer.

Die hotel het verlede jaar afgebrand en die polisie kon nog nie die oorsaak van die brand vasstel nie. Brandstigting word vermoed, maar swak samewerking van die gemeenskap verhoed skynbaar dat inligting aan die polisie verskaf word om die verdagtes vas te trek. Die dak van die hotel het in 2005 afgewaai waarna dit teen ‘n koste van byna N$200 000 herstel is.