ALLE pogings om georganiseerde arbeid se aandrang op optrede teen ’n massiewe beleggingskandaal by die Pensioenfonds vir Staatsinstellings (GIPF) van die kongresagenda van Swapo se vakbondfederasie te stoot, het misluk.
Hierdie eis van die NUNW se uitgesproke sekretaris-generaal, mnr. Evilastus Kaaronda, het vanoggend by die opening van die waterskeidingsindaba in Windhoek luide krete van ondersteuning van die vloer uitgelok.
Mnr. Kaaronda, wat vir ’n vir ’n tweede termyn gaan staan in môre se verkiesing van nuwe leiers vir die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW), is hoorbaar harder onderskraag as enige ander vakbondspreker.
“Viva Kaaronda!” is daar uit die geledere van die oor die 700 afgevaardigdes gebulder.
Mnr. Elia Manga, tweede vise-president van die federasie en ’n moontlike kandidaat vir die NUNW se vakante presidentspos, het in sy verwelkoming emosies probeer kalmeer.
“Geen individu is hoër as die instelling wat hy of sy verteenwoordig nie,” het dié pro-Kaaronda man onder dawerende applous gesê. Hy het ’n beroep op volwassenheid, logika en demokratiese konsensus gedoen.
As waarnemende president van die NUNW het mnr. David Namalenga gevra dat die fokus moet val op kwessies wat die werkers raak, soos werkloosheid, die indiensneming van plaaslik opgeleide studente en MIV/vigs. Die groot toets vir die federasie is volgens hom om met praktiese oplossings vir sulke sake vorendag te kom.
Applous was tasbaar flouer.
Nadat mnr. Namalenga die belang van die NUNW se sake-arms se bydrae tot die federasie beklemtoon het en vir groter spoed gepleit het met die daarstel van ’n nasionale pensioenfonds vir alle werkers, was die tafel gedek vir mnr. Kaaronda om dit doodduidelik aan die kongres te maak dat hy ferm optrede wil sien om betrokkenes by die GIPF-debakel en die daaropvolgende onsuksesvolle planne om beleggingsbesluite aan ’n handjievol omstrede trustees uit te kontrakteur tot orde te roep.
Vakbondleiers wat eerder geld uit sakebedrywighede en hul sittingsfooie as direkteure wil maak as om hul mandaat uit te voer, staan vierkantig in die Kaaronda-kamp se visier.
Voor ’n nasionale pensioenfonds tot stand kom, moet daar volgens mnr. Kaaronda eers met sondes by die GIPF afgereken word en sekeheid bestaan dat ’n herhaling van die vergrype nooit weer sal plaasvind nie.
“Die waarheid kan nooit weggesteek word nie,” het hy met groot aanmoediging aangedring. As dit gebeur, het hy gesê, moet werkers nie skrik as hulle eendag wakker skrik en al hul geld is weg nie.
“Down with corruption down!” het goedkeurende krete van die vloer opgeklink.
Nie die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, of Minister van Arbeid, mnr. Immanuel Ngatjizeko, het direk na die GIPF-vraagstukke verwys nie, maar beide was in ’n tasbare vredesgebaar minstens bereid om leiers se versaking van hul volgelinge aan te vat.
“Leierskap is vertroue wat in ons gestel word,” het mnr. Angula benadruk. Die najaag van persoonlike voordeel, verraai die vertroue, het die Eerste Minister gesê.
“Ons moet te alle tye hierteen waak,” het hy beklemtoon.
Mnr. Ngatjizeko het werkers as die gewete van ’n nasie bestempel en leiers ewe ernstig gewaarsku teen selfverheerliking en selfbevordering.
Hoewel krake in die federasie se verhouding met die Regering in aantog na ’n tweede rondte nasionale verkiesings diplomaties grootliks op die agtergrond gestoot is, het beide die Premier en mnr. Ngatjizeko reëlreg vir groter eenheid binne die NUNW gepleit.
Strawwe kompetisie om leierskapsposisies is volgens mnr. Ngatjizeko niks om te vrees nie.
As die verkiesing verby is, moet daar volgens hom egter nie wenners en verloorders wees nie, maar alleen ’n sterker, inklusiewe eenheid.
Beide het die NUNW berispe dat hy sy ledetal, tans 164 000, aansienlik sal moet uitbrei.
Die skerpste stekie wat die premier ingekry het, was dat die uitblakering “op megafone” van struwelings wat ander mense privaat behoort op te los, nie aanvaarbaar is nie. “Dit is ’n misbruik van die vertroue van diegene wat ons verkies het,” het hy berispe.
Mnr. Angula het as hoofspreker ingestaan vir President Hifikepunye Pohamba. Die staatshoof en oudpresident Sam Nujoma was as die hoogste gaste vir die kongresopening gelys, maar is in die Noorde vir ’n reuse militêre oefening van die Namibiese weermag.
In van die jongste verkiesingspraatjies by die kongres word gespekuleer dat die Kaaronda-kamp moontlik in ’n koersverandering ’n vrou vir die presidentskap van die federasie gaan nomineer eerder as vir mnr. Manga.
’n Voorgestelde wysiging aan die NUNW se grondwet, wat bestuurslede in die werkplek van leierskapposisies wil uitsluit, sal indien dit slaag teenstanders van die huidige sekretaris-generaal se voorgenome nominasie van mnr. Namalenga vir die posisie op die rotse dwing. Hy is personeelbestuurder by die Padkontrakteursmaatskappy (RCC).
Me. Bobby Kandjala, die NUNW se vroulike organiseerder aan die kus, sal waarskynlik die Kaaronda-kamp se keuse vir die posisie van adjunksekretaris-generaal wees.
Klik op die speelknoppie om na ‘n videogreep uit die openingstoesprake te kyk.