23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

21.10.2009

APP sluit ooreenkoms op Rehoboth


Mnr. Lukas de Klerk (links) van die RRA en die president van die APP, mnr. Ignatius Shixwameni, onderteken die samewerkingsooreenkoms. Die RRA se rol as die Bastergemeenskap se mondstuk en verteenwoordiger word deur die Kapteinsraad en Eenheidsbeweging van Rehoboth betwis.

DIE Rehoboth Belastingbetalersvereniging, plaaslik as die RRA bekend, het Sondag ’n ooreenkoms met die All People’s Party (APP) onderteken wat verteenwoordiging vir die Rehoboth-gemeenskap in die Nasionale Vergadering in die komende verkiesing kan verseker.

Die ooreenkoms is nie deur al die Rehobothers verwelkom nie, met lede van die Kapteinsraad en die Rehoboth Eenheidsbeweging wat net voor die ondertekening ’n persverklaring aan Republikein besorg het. Die skrale bywoning was volgens een lid van die Kapteinsraad sprekend van die min steun wat die ooreenkoms op Rehoboth geniet.

Die RRA, aanvanklik gestig as ’n nie-politiese groep, het Sondag onder leierskap van sy huidige voorsitter, mnr. Lukas de Klerk, die Bastergemeenskap in die Hermanus van Wyk-saal op Rehoboth aangeraai om in die November- verkiesing hul kruisies langs die APP-kenteken te trek.

Met luide samestemming van sommige van die gemeenskapslede in antwoord van mnr. De Klerk se woorde, was die krete van die APP ook hoorbaar.

Die APP staan landwyd as ’n “Kavango-party” bekend, maar is nou druk besig om landwye steun te werf.

Die ooreenkoms tussen die APP en die RRA blyk dat minstens twee en ’n maksimum van vyf RRA-lede op die APP se lys vir parlementêre verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering vir die komende verkiesing sal verskyn.

In ruil hiervoor word die Bastergemeenskap aangemoedig om in die 2009 presidentsverkiesing, asook in die 2010 plaaslike owerheidsverkiesing vir die APP te stem. Volgens die ooreenkoms sal enige RRA-lid wat van die NV-stoel onttrek, deur ’n ander RRA-lid vervang word.

Mnr. Kotze van die Kapteinsraad van Rehoboth, asook lid van die Eenheidsbeweging van Rehoboth, is een van die mense wat skepties oor die ooreenkoms is.

“Die RRA is nie die amptelike verteenwoordiger van die Rehoboth Basters nie,” is sy mening. “Hulle het dus nie die mandaat om namens die Bastergemeenskap enige beloftes te maak nie en enige samewerkingsooreenkoms te onderteken nie.”

Volgens die nuusverklaring van die Eenheidsbeweging, wat volgens sy voorsitter, mnr. Willem Bismarck van Wyk, die amptelike verteenwoordiger van die Bastergemeenskap is, is die Baster en inwoners van Rehoboth nie verbind om by die samewerkingsooreenkoms met die APP te hou nie. “Elkeen moet sy gewete in die verkiesings volg as dit by die trek van kruisies op die stembrief kom.”

Die RRA het die ondertekeningseremonie begin deur Rehobothers te verseker van die ondersteuning wat die Eenheidsbeweging verkry het, maar volgens die nuusverklaring wat deur die einste beweging aan Republikein uitgereik is, bestaan geen sodanige steun nie.

“Die Eenheidsbeweging is daarvan oortuig dat die betrokke politieke party nie noodwendig die belange van die Basters met erns beskou nie, maar dat dit eerder ’n strategie is om die Basters se stemme te misbruik, soos voorheen die geval was,” lui die verklaring.

Die Eenheidsbeweging van Rehoboth het ook beswaar teen die voorsitterskap van mnr. Lukas de Klerk, wat volgens hulle sy eie politieke aspirasies wil volg en die Basterstem gebruik om sy eie parlementsetel te verseker.

Volgens die Eenheidsbeweging is mnr. De Klerk voorheen reeds gevra om die saak van Basterverteenwoordiging asook die bevordering van die Bastergemeenskap as geheel te bespreek, maar hy het blykbaar nie eens self vir die vergaderings opgedaag nie.

Die Eenheidsbeweging van Rehoboth sal, volgens die groep se adjunkpresident, mnr. Jan van Wyk, binnekort op ’n openbare vergadering ’n aankondiging rakende die verkiesings maak.

Hein Scholtz