16.05.2008
Angel nog nie uit Skorpion
Loontwis
MET ‘n staking deur die operateurs van die Skorpion-sinkmyn buite Rosh Pinah wat vandag ‘n sewende dag betree, is daar volgens die Arbeidskommissaris, mnr. Bro- Mathew Shinguadja, bemoedigende tekens dat hierdie struweling wel op ‘n skikking kan uitloop. Mnr. Shingaudja was die afgelope twee dae strykdeur in kontak met beide die werkgewer en vakbond.
Die Mynwerkersunie van Namibië (MUN) het hul hoop vir ‘n oplossing in dié voortgesette loontwis vroeër vandeesweek op direkte ingryping deur die Minister van Arbeid, mnr. Immanuel Ngatjizeko, geplaas. Volgens mnr. Ngatjizeko het hy die Arbeidskommissaris beopdrag om die strydende partye so gou moontlik tot ‘n vergelyk te probeer bring.
Tot nou moes vrywilligers uit dele van die sinkreus se personeelkorps wat nie staak nie – selfs bestuurders – die oorpak en stewels vir moordende 12 uurskofte aantrek om produksie op peil te probeer hou. Ingeligte bronne sê dit kan tot twee maande vat om die raffinadery aan die gang te kry as produksie heeltemal tot stilstand sou kom.
Vanuit een oord is geredeneer dat net ‘n kompromie wat verby kleinighede kyk ‘n armdruk kompetisie kan beëindig waarin die myn worstel om astronomiese verliese af te weer, en werkers dalk te honger gaan raak om die druk vol te hou. “Ons doen ons absolute bes,” het mnr. Shinguadja al Woensdag verseker. “Die atmosfeer is belowend,” het hy gister teen saktyd gesê.
“Maar dit is baie moeilik. “Die gees is goed, hoewel die gesprek baie stadig vorder. Maar daar is beslis lig aan die einde van die tonnel.” Mnr. Joseph Hengari, hoofsekretaris van die MUN, het uit die Suide opnuut beweer dat die bestuur nie in goedertrou onderhandel nie. Tog is daar volgens hom net twee kernkwessies wat die gesprek ondermyn.
Behalwe vir Skorpion se voorwaarde dat die vakbond in ruil vir verhogings die myn se aansoek vir kwytskelding van sekere voorskrifte in die Arbeidswet moet ondersteun, eis die MUN dat verhogings terugwerkend van 1 Januarie in werking tree. Skorpion is net bereid om vanaf 1 Maart op te dok.
Volgens mnr. Hengari kan die begin van die boekjaar egter nie outomaties die maatstaf wees nie. Die goedkeuring van halfdagskofte deur die Ministerie van Arbeid hang volgens hom ook glad nie van die vakbond se steun af nie.
Skorpion het werkers op 2 Mei met ‘n algemene kennisgewing ‘n verhoging van 12 persent op basiese salarisse aangebied, ‘n behuisingstoelaag van N$1 750 per maand, gratis vervoer tot in Windhoek met af weke (voorheen net tot in Keetmanshoop) en ‘n welwillendheidsbonus van N$1 000 per persoon. Hierdie pakket sou operateurs se inkomste met tussen 30,8 en 60,7 persent opstoot. Die vakbond wou egter 14 persent hê, en ‘n groter behuisingstoelaag.
Hoewel humeure Maandag baie hoog opgevlam het, was gemoedere teen Woensdag blykbaar aansienlik kalmer. Kontrakteurs is aan die begin van die week versoek om eers vas te staan toe hulle met alle mag die perseel wou binnegaan om hul brood te verdien. Hulle kon eers Dinsdag met hul werk voortgaan.
Al wat Skorpion se segsman, mnr. Usi //Hoebeb, steeds gister wou sê, was dat onderhandelinge onverpoods voortduur. Volgens Reuters het sinkpryse Woensdag die skerpste in die afgelope twee en ‘n half maande gestyg. Die aardbewing wat produksie in China noemenswaardig ingeperk het en die staking by Skorpion, Afrika se grootste sinkmyn, is die vernaamste redes vir dié opswaai.