22.02.2010 Alles begin by opvoeding
 Ehrenfried Muroua
Kandidaat:
Ehrenfried Muroua
Geboortedatum:
4 Mei 1965
Geboorteplek:
Gobabis. Mnr. Muroua, die oudste van die vier kandidate, het op Oupad en Rietfontein grootgeword. Inwoner van Okahandja sedert 1996.
Beroep:
Onderwyser by Sekondêre Skool Okahandja.
Politici in familie:
Mnr. Muroua trek sy bloedlyn as Mbanderu terug na manne soos mnre. Simeon Hoveka (sy oupa), Gerson Hoveka en Nikanor Hoveka wat in 1924 vanaf die destydse Herero-vlugtelingkamp naby die huidige Internasionale Lughawe Hosea Kutako na Epukiro getrek om die reservaat daar te begin.
Prioriteite vir die streek:
“Dit begin met onderwys,” sê die onderwyser wat in Kanada geskiedenis, sosiologie en sielkunde gestudeer het.
“Visie 2030 sal net ’n veraf droom bly as ons nie die jeug van die begin af met die regte inligting en vaardighede bewapen om produktiewe burgers te wees nie. “Ons moet ook die wittes in die streek betrek,” sê mnr. Muroua.
“Ons isoleer sekere groepe en dit is nie ’n gesonde toestand nie. Ons moet boere eerder bedank vir hul bydrae en hulle help om hul goeie ontwikkelingsplanne ten uitvoer te bring. “Ons preek versoening, maar leef dit nie.”
Planne vir Okahandja:
Mnr. Muroua wil die Tuindorp se status as belangrike aandoenpunt op die roete na die Noorde herstel. Private maatskappye kan volgens hom help om opleidingsgeleenthede vir meer jeugdiges op die dorp te skep.
’n Veeldoelige vaardigheidsentrum moet volgens hom op Okahandja verrys waar SME’s ook uit die blokke kan kom.
Hy wil ’n “volksparlement” vir Okahandja tot stand bring waar alle belangegroepe – ook die inwoners van informele nedersettings – direkte inspraak in die kiesafdeling se ontwikkeling sal hê.
Sowat 50 inwoners van die dorp wat by die asgate woon, moet volgens mnr. Muroua dringend hervestig word, terwyl erwe ook aan ander ontheemdes gegee moet word. “Die mense maak die vullis hul huis,” benadruk hy.
Mnr. Muroua glo streeken dorpsrade kan meer doen om noodsaaklike behoeftes direk aan internasionale agentskappe soos die Verenigde Nasies oor te dra.
|