7.10.2008 Alle oë op landbouBrandpunte voor kongres
ALLE oë is vandag op Windhoek gerig waar produsente oor die volgende drie dae die ekonomiese krisis gaan bespreek waarin die Namibiese landbousektor hom te midde van die wêreldwye voedseltekort en die gepaardgaande styging in kospryse bevind.
Sowat 80 persent van Namibiërs steun direk of indirek op landbou vir oorlewing, ‘n syfer wat teen die agtergrond van wat huidig in die wêreld aan die gebeur is, rampspoedige gevolge vir die land inhou.
Produsente meen dit is tyd dat die Regering ingryp en daarom handel die belangrikste besprekingspunte op die Namibiese Landbou-unie (NLU) se agenda vir vanjaar se kongres juis oor die maniere waarop die owerheid kan toetree om verligting te bring.
Die onsekerhede rondom grondeienaarskap en die belangrikheid daarvan dat Namibië goeie bemarkingstrategieë ontwikkel waardeur produsente die beste moontlike pryse vir hul produkte kan kry, gaan na verwagting druk bespreek word. So ook produsente se voorneme om die Regering vir finansiële hulp in hul stryd teen bosindringing te vra.
Die Regering gaan ook versoek word om die infrastruktuur in die kommunale gebiede te verbeter sodat onbenutte kommunale grond meer produktief gebruik kan word. Voorts wil die NLU-bestuur ook hê die Regering moet die koers waarteen grondbelasting gehef word, aanpas sodat dit meer bekostigbaar kan wees.
Die produsente meen ook wetenskaplike studies moet gedoen word na ander wyses waarop die Regering produsente finansieel kan steun om die landbousektor, een van die sleutelbedrywe in die land, van ondergang te red. Luidens die agenda word Namibiese boere gepeper met stygings in die dag tot dag bedryfskoste op plase.
Terselfdertyd styg die pryse wat hulle vir hul produkte kry nie in dieselfde verhouding nie, wat beteken dat die winsgewendheid van boerdery toenemend onder druk is. “Die rol van die landbousektor as die primêre skakel in die waardeketting van voedselproduksie word dikwels onderskat.
Dit lei tot ‘n onderwaardering van die belangrikheid van hierdie sektor en vind ook só neerslag in die nasionale begroting en nasionale beleidstrategieë,” lui die beskrywingspunt. Produsente meen dat die Regering in die lig van die huidige voedselkrisis en die beperkte geleenthede vir Namibiese produsente om in te gryp en ‘n verskil te maak, juis nou moet wakker skrik en die landbouer na waarde ag.
Die tema van die Lewendehaweprodusente- organisasie (LPO) se kongres, wat reeds vroegoggend afskop, handel oor die uitdagings van die nuwe ekonomiese realiteite in die wêreld vir volhoubare voedselproduksie, terwyl die NLU tydens sy kongres wat môremiddag begin, die soeklig gaan skyn op die rol en waarde van die landbouer in die strewe na veilige voedselvoorrade in die wêreld.
|