23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

1.03.2010

Zambezi, Cuvelai styg wyl reën wyd val

© www.weatherphotos.co.za
Luidens prof. Kobus Botha se webtuiste www.weatherphotos.co.za kan groot dele van Namibië tot Sondag tussen 2mm en 65 mm reën verwag. Die verre-noordweste en sentrale suide kan selfs meer reën ontvang.
DIE watervlak van die Zambezirivier by Katima Mulilo sal moontlik binne die volgende weke hoër as sewe meter styg nadat ’n hoë vloed die rivier by Chavuma bereik het.

Intussen is watervlakke in die Cuvelai oshanas ook aan die styg en met ligte reënbuie wat die naweek in die omgewing van die Cuvelai geval en goeie reën wat ook in Angola voorgekom het, word meer vloedwaters verwag.

Volgens die rivierverslag is ’n hoë vloed Vrydag in die Zambezirivier by Chavuma, naby die grenspos van Angola, bevestig. Die lesing van die rivier was toe 8,81 meter nadat dit sedert 23 Februarie vanaf 7,71 m gestyg het. Dit neem ’n paar dae vir vloede om vanaf Chavuma tot by Lukulu te vloei en dan neem dit nog sowat twee weke om Katima Mulilo te bereik.

“’n Versigtige voorspelling is dat die Zambezi-rivier by Katima Mulilo se watervlakke 7 meter teen middel-Maart kan bereik of oorskry,” volgens die rivierverslag.

Die grootte van die vloed wat uiteindelik Katima Mulilo sal bereik, word egter deur reën en vloeitoestande bepaal en dit is ook nog nie seker met hoeveel die vloed verder by Chavuma sal styg nie.

Volgens die rivierverslag het swaar weerstoestande vir eers uit die omgewing beweeg en geen swaar reënbuie word voorspel nie. Die jongste lesings van die Zambezi-rivier was Vrydag by Chavuma 8,81 meter, Donderdag is die vlak van die rivier by Lukulu op 6 meter gemeet en by Katima Mulilo was dit gister 4,92 meter hoog. Die rivier se vlak het binne ’n dag met 12 cm by Katima Mulilo gestyg.

In vergelyking met vorige jare se syfers het die rivier in 2007 ’n maksimum hoogte van 9,04 meter by Chavuma, by Lukulu 6,56 meter en by Katima Mulilo 7,23 meter bereik. Tydens 2008 het die rivier tot 7,53 meter by Chavuma, by Lukulu tot 5,82 meter en by Katima Mulilo tot 5,88 meter gestyg.

Die volgende jaar was die hoogste watervlak by Chavuma 9,71 meter, by Lukulu 6,89 m en by Katima Mulilo 7,89 meter.

Intussen het heerlike reënbuie die naweek oor meeste dele van die land geval en die ergste hitte gebreek. Donderdagaand het sommige boere ook in die omgewing van Leonardville reënvalsyfers tussen 18 en 63 mm gemeet.

Volgens die weerkantoor se reënvalsyfers is die hoogste syfers Vrydag op Goedemoed gemeet waar 62 mm reën geval het. Tydens die naweek het Otjinene 45,6 mm ontvang, Katima Mulilo 38,5 mm, Ondangwa 29,6 mm, Buitepos 28,4 mm en Grootfontein 15,7 mm.

In die omgewing van die Cuvelai het 14,4 mm op Tsandi geval, 7,7 mm op Ulupumbu, 6,8 mm op Onayena, 6 mm op Oluno en Ekamba en Oshakati het ook ligte reënval gehad.

Ander plekke wat ligte reënbuie gehad het, was Rundu, Tsumeb, Sesfontein, Gobabis en Windhoek.

Volgens die weerkantoor in Windhoek sal bewolkte toestande oor die noordelike en sentrale dele van die land die res van die week heers, met verspreide reënbuie wat ook sal voorkom. In die verre noorde kan swaarder reënbuie verwag word.