’n UITNODIGING om as maatskappy ’n bydrae tot die voorkoming van misdade soos die grumoord op Magdalena Stoffels te lewer, is soos een man deur werknemers van die Trustco maatskappygroep aangegryp. Die misdaadbekampingsveldtog behels die ontbossing van oop stukke veld waar kriminele elemente skuil en hul dade van geweld pleeg.
Die veldtog waaraan die Trustco werknemers deelgeneem het, het saamgeval met die soortgelyke aksie wat deur oudpresident Sam Nujoma in samewerking met die Windhoekse brandweer in die Rocky Crest-woonbuurt onderneem is. Mnr. Quinton van Rooyen, hoof uitvoerende beampte, het gesê die Trustco maatskappygroep is na Woensdagoggend se skoonmaakveldtog genooi.
Hy het die uitnodiging tydens ’n oggendvergadering met sy werknemers bespreek en almal het soos een man aangebied om die voormalige staatshoof met die skoonmaakveldtog te gaan help.
“Ons het letterlik nie genoeg busse gehad om die mense na Rocky Crest te neem nie. Van die busse moes twee keer ry om die mense by die stuk veld te gaan aflaai.”
Mnr. Van Rooyen sê sy werknemers het hoede en koeldrank aan die ander boskappers uitgedeel om hulle teen die dors en die son te beskerm. Daarbenewens het die Trustco werkers ook die bosse met pangas getakel om nog een van Windhoek se misdaadneste saam met die Vader van die Nasie te verwoes.
Die begrafnis van wyle Magdalena Stoffels, die skoolmeisie wat verlede week vermoor was, vind môre plaas. Vanaand om sesuur word ’n lykwaak by haar ouerhuis gehou terwyl vir haar oorskot gewag word en daarna sal ’n roudiens om 19:00 begin.
Begrafnisgangers ontmoet môre vanaf 08:00 by haar ouerhuis en beweeg om 08:30 na die Hoërskool Dawid Bezuidenhout vir die begrafnisdiens wat om 09:00 in die skoolsaal begin.
Die teraardebestelling sal by die Khomasdal begraafplaas plaasvind. Die Windhoek munisipaliteit het busse beskikbaar gestel om die roubeklaers van die skool tot by die begraafplaas te vervoer.