8.02.2012
Wedloop teen die winter
DIE eerste wedloop na die Suidpool het die name van Amundsen en Scott vir ewig in die geskiedenisboeke geskryf. Amundsen het die Suidpool op 14 Desember 1911 eerste bereik met Scott wat net meer as ’n maand later, op 17 Januarie 1912, daar aangekom het. Die tragiese verhaal wat die mensdom aangegryp het, is hoe Scott en sy hele geselskap op pad terug gesterf het na hulle vir 12 dae in ’n sneeustorm vasgekeer was, slegs elf myl van ’n basis waar hulle kos en brandstof sou kon kry.
Amundsen se terugreis was veilig, waarskynlik vanweë sy genadelose metodes. Hy en sy spanlede het glo die sleehonde (Husky) geëet wat verswak het en dus nie meer die pas kon volhou nie.
Die Van Schalkwyks is verlede jaar deur die produksiemaatskappy Urban Brew van Johannesburg genader om by die rolprentspan aan te sluit om die eeufeeswedloop na die Suidpool te verfilm.
Die wedloop is deur Extreme World Races gereël, en atlete wat ekstreme sportsoorte beoefen van oral in die wêreld, moes elk €90 000 opdok om die wedloop te kon aanpak. Uiteindelik het 16 atlete onder wie ’n span uit Suid-Afrika deelgeneem. Onder die Suid- Afrikaanse spanlede was Pete van Kets, ’n oud-Windhoeker wat hier grootgeword en skoolgegaan het.
Die ondersteuningspan, die rolprentspan en die atlete het van Kaapstad af met ’n Russiese Ilyushin-vragvliegtuig na Novo Lazarevskaya, ’n Russiese basis aan die kus van Antarktika gevlieg. Van daar is hulle met spesiale bakkies van Arctic Trucks die 3 400 meter teen die platorand op tot bo-op die plato geneem van waar nog 2 500 km tot by die Suidpool voorgelê het.
Hier het die atlete eers geakklimatiseer om aan die hoogte bo seespieël gewoond te raak. Die Antarktika-plato is nagenoeg 3 660 meter bo seespieël, omtrent drie keer hoër as Windhoek.
Die wedloop het presies 750 km van die Suidpool af begin en die atlete moes die volle afstand op ski’s aflê.
Paul en sy kollega, Danie Ferreira, het die Noorweegse span wat die voorlopers was, gevolg terwyl Henri en nog ’n kameraman, Stafford Robertson, die ander spanne wat redelik na aan mekaar was, verfilm het.
Paul vertel dat die grootste hoogtepunt van die avontuur wat met hul vertrek uit Namibië byna twee maande gelede begin het, die dag was toe hulle die Suidpool bereik het. Daar is maatskappye wat toeriste met vet beursies na die pool vlieg waar hulle ’n glasie sjampanje geniet en dan weer terugvlieg. So ’n uitstappie sal ’n besoeker N$150 000 uit die sak jaag.
’n Sensoriese hongersnood
“Dit was ’n ongelooflike ervaring om die grootsheid van Antarktika te beleef. Ons het 2 500 kilometer oor ’n plat, wit landskap gery waar ’n mens ’n wesentlik sensoriese hongersnood beleef. Daar is nie voëls of insekte, self nie eens bakterieë of virusse nie,” vertel Paul. Hierdie sensoriese impak bring mee dat die sintuie verskerp. Kos se smaak is sterker, geluide klink harder en kleure raak oorweldigend vir die oog.
Die rit vanaf die platorand tot waar die wedloop begin het, het vier dae geduur. Dit was ’n moeilike rit met voertuie wat teen ’n skamele 20 km per uur in tweede rat, lae strek in viertrek gery het.
“Dit was ’n ongelooflike ervaring met die son wat nooit ondergaan nie en heeltyd in die hemelruim te siene is. Op daardie plat, wit landskap sonder bakens op die horison, voel dit letterlik of jy nie werklik nader aan jou bestemming kom nie. Daar is geen visuele manier, buiten die globale posisioneringsatelliet (GPS), wat jou kan help om jou vordering te meet nie. Dit is dus geen wonder dat al die atlete vertel het van hallusinasies wat hulle ervaar het nie. Sommige het vertel hulle het geboue, mense, voertuie en selfs tuine begin sien.”
Dehidrasie, ’n groot probleem
“Antarktika is droog, so droog soos die Namib, met ’n humiditeit van omtrent drie persent. Dit is ongelooflik as jy besef dat die Antarktika- vasteland bedek is deur ys wat tussen 2,7 km en 4 km dik is. Die totale vasteland lê onder 28 miljoen kubieke kilometer bevrore, vars water. Ten spyte hiervan is dehidrasie een van die grootste probleme. ’n Mens gebruik ’n groot deel van elke dag net om genoeg drinkwater te ontvries.
“Antarktika is ook ’n vyandige vasteland. Dit is asof dit jou nie daar wil hê nie en alles moontlik doen om van jou ontslae te raak, het een van die ander spanlede eendag opgemerk,” sê Paul.
Spanlede sien na mekaar om
Vriesbrand bly ’n aktuele probleem waarteen mens voortdurend moet waak. Paul vertel dat met die aankoms van die Noorweërs by die Suidpool, hy meegevoer geraak het en baie foto’s geneem het. Een van die spanlede het hom geroep en gesê hy moet vinnig in ’n warm voertuig skuiling soek, want sy neus was besig om te vries. “My neus was spierwit toe ek in die spieël kyk. Dit was baie opmerklik hoe die hele geselskap van 32 mense na mekaar omgesien het, soos hierdie voorval getuig.
“In spanverband kan ’n mens ook nie bekostig om iemand te verloor nie, want dan word so ’n persoon ’n las. Een van die Britte in die wedloop het voor die halfpadmerk sy arm gebreek, maar geweier om te onttrek. Geen hulp van buite is toegelaat nie en hy het die res van die wedloop met ’n gebreekte arm afgelê. Die Suid-Afrikaanse span het aangebied om te help deur die vrag wat hy op sy slee moes sleep, tussen die twee spanne se onderskeie lede te verdeel. Hulle was gevolglik nie meer in die wedloop om die pool eerste te bereik nie, maar het alles in die stryd gewerp om die Suidpool voor die afsnydatum te bereik.”
Die son sak
Paul vertel dat hul verblyf daar ook ’n wedloop teen die winter was. Almal moes voor 27 Januarie weg wees van die Suidpool omdat die son dan onder die horison sak en die temperatuur daagliks met ongeveer twee grade daal. In die Arktiese winter kan dit so koud soos minus 80 grade Celsius raak.
“Daar is ’n spesifieke dinamika wat in die groep ontwikkel. Op so ’n avontuur is daar nie plek vir passasiers nie en die span is so sterk soos sy swakste lid. As die wind teen 95 km per uur waai en dit is tyd om kamp op te slaan, moet elkeen sy kant bring.
“Met die aanvang van so ’n reis, wonder ’n mens maar oor jouself en hoe jy dit gaan hanteer. My seun, Henri, was ’n onmisbare lid van die span en hy het regtig hard gewerk,” sê Paul.
As daar een ding is wat hy anders sou gedoen het, was dit om meer pare handskoene saam te neem. “’n Mens besef nie voor die tyd hoeveel harde, fisiese werk aan so ’n avontuur verbonde is nie. Binne die eerste week was my een paar handskoene daarmee heen. ’n Mens moet twee pare handskoene bo-oor mekaar aantrek, anders begin jy weens die koue gou-gou die gevoel in jou hande verloor.”
Die rolprent sal teen einde Maart of begin April op SAUK-TV vertoon word. ’n Internasionale weergawe word ook vir buitelandse verspreiding geredigeer. Die goeie nuus is dat One Africa TV, Namibië se plaaslike gratis kommersiële TV-stasie, ook die rolprent later vanjaar sal vertoon.
Klik op die foto om die fotogallery te vertoon.
In die gallery sal jy na die volgende of die vorige foto's kan aanbeweeg deur in die linker- of die regterkant van die foto te klik. Alternatiewelik kan jy die sleutel "T" gebruik vir terug, "V" vir vorentoe of "M" om die fotovenster toe te maak.