9.02.2012 Wambo gooi wal
RAADSLID Edward Wambo van die kiesafdeling Rehoboth-Oos en lid van die Hardap Streekraad, het hom vinnig verontskuldig van die gebrek aan ontwikkeling op Rehoboth toe hy deur die gemeenskap daarmee gekonfronteer is. Volgens hom kan hy nie persoonlik daarvoor verantwoordelik gehou word nie.
Tydens ʼn gemeenskapsvergadering wat onlangs in die Oanob-saal op Rehoboth gehou was, het hy geantwoord op die petisie wat vir sy verwydering gevra het. Hy het gesê as raadslid verteenwoordig hy die Swapo-party en Swapo se manifes moet gebruik word om vas te stel of gedoen is wat belowe is. “Ontwikkeling vind wel plaas, maar nie noodwendig teen die nodige tempo nie,” het Wambo gesê. Hy het gesê in die manifes staan onder meer dat beter gesondheidsgeriewe, sanitasie en behuising aan die inwoners van die dorp belowe is.
Die nuwe ten volle toegeruste kliniek in Blok E is een voorbeeld van ontwikkeling wat op die dorp plaasgevind het, het hy begin om projekte wat wel plaasgevind het, te noem. Hy het gesê 360 toilette is op individue se erwe gebou en dit is ʼn projek wat voortgaan. Een van die betogers het tydens die vergadering erken dat sy een van die mense is wat ʼn toilet ontvang het. Die bou van toilette het in Augustus 2010 begin, meer as N$5 miljoen is bestee en dit het volgens hom aan ten minste 240 mense werk verskaf.
Die maatskaplike behuisingsprojek is ook reeds aan die gang en verskaf werk aan ten minste 40 mense, het hy gesê. Volgens Wambo het die raad in 2008 die koste van 40 jong mense betaal om opleiding in spyseniering en die gasvryheidsbedryf te ontvang en dit het ook vir tien jong mense se rekenaaropleiding betaal.
Hy het voorts gesê die raad het 15 skoolverlaters in 2008 by Namcol ingeskryf om hul graad 10- of graad 12-kursusse te voltooi. Hy het gesê die raad het ook in 2008 vir twee meisies se diplomakursusse in kantooradministrasie betaal. Een het egter nooit klasse bygewoon nie. In antwoord op die aantyging dat die raad nie die gemeenskap raadpleeg nie, het hy gesê die kiesafdeling is in 2009 in nege blokke verdeel en vergaderings is in al nege gehou. Die mense was gevra watter probleme hul ondervind.
Die petisie lui onder meer dat Wambo nie oor ʼn vaste adres beskik nie, iets wat hy ontken. “Ek is op Rehoboth gebore en die meeste van my familie bly hier. Ek bly in my ouers se huis en sien nie die nodigheid om ʼn huis te koop as ek nie wil nie.” Hy het gesê NamWater het gedreig om die dorp se watertoevoer te staak en as raadslid moet hy mense dus aanmoedig om hul rekeninge te betaal. Dit sou oneties wees om dit nie te doen nie. Wambo het gesê diegene wat die vergadering bygewoon het, het positief op sy antwoorde gereageer.
|