23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

25.08.2010

Vraagtekens oor vliegongeluk

VIER mense het die dood wonderbaarlik ontkom en die ligte vliegtuig waarmee hulle sou reis, is ernstig beskadig toe dit nie daarin kon slaag om op te styg nie.

Die Ministerie van Werke en Vervoer se direkteur van ondersoeke na vliegtuigongelukke, mnr. Erickson Nengola, het die ongeluk van Sondagmiddag bevestig en gesê ’n deurtastende ondersoek na die ongeluk sal op die jagplaas Urusis van stapel gestuur word.

Die plaas is ongeveer 80 km vanaf Maltahöhe en baie gewild onder buitelandse besoekers. Twee besoekers uit Duitsland en twee Namibiërs was aan boord tydens die ongeluk.

Nie een van die mense is ernstig beseer nie en almal was Maandag steeds op die jagplaas. Die vliegtuig, ’n Piper PA28, behoort aan ’n mediese praktisyn van Swakopmund.

Ondersoekbeamptes van die direktoraat is Maandagoggend deur polisiebeamptes van Mariental na die ongelukstoneel geneem en hulle het reeds ’n voorlopige verslag aan hul hoof in Windhoek gestuur.

Ander bewysstukke soos brandstofmonsters, olie en meganiese onderdele van die vliegtuig is volgens mnr. Nengola op die toneel versamel en dit sal aan noukeurige toetse onderwerp word in ’n poging om die werklike oorsaak van die ongeluk te bepaal.

Volgens die polisie se bevelvoerder in die Hardap-streek, kommissaris Kobus Meyer, het die ongeluk plaasgevind terwyl die vlieënier, mnr. Hanso Winkler, besig was om op te styg.

“Die aanloopbaan is 885 meter lank en die vlieënier het aan die ondersoekbeamptes vertel dat hy en sy passasiers die namiddag op ’n besigtigingsvlug wou gaan. Nadat die vliegtuig sowat 680 meter van die landingstrook afgelê het, het dit genoeg spoed gehad en mnr. Winkler het opgestyg. Die vliegtuig kon egter nie verder hoogte kry nie en die vlieënier het besluit om weer neer te stryk sodat hy die vliegtuig onder noodtoestand tot stilstand kon bring.”

Volgens komm. Meyer was daar nie meer genoeg aanloopbaan oor om die vliegtuig veilig tot stilstand te bring nie en het dit sowat 35 meter van die strook afgeloop.

“Een van die agterwiele het volgens die vlieënier aan ’n hoop sand vasgehaak en die vliegtuig het op die grond buite beheer geraak. Dit het na regs geswenk en in die proses is beide die vlerke en die skroef onherstelbaar beskadig.”

Die vliegtuig sal eersdaags per pad na Windhoek geneem word sodat die direktoraat van ondersoeke die oorsaak van die ongeluk kan bepaal en sodat dit herstel kan word.

Die polisie het die name van die passasiers bekendgemaak. Hulle is mnre. Ferdinand Johannes en Gerfried Happmann van Duitsland en Ernst Wilfried van Namibië.

Die vlieënier van die private vliegtuig met die registrasiemerk V5-EYS wou nie veel oor die ongeluk sê nie en het vrae oor die voorval na die direktoraat van ondersoeke of die polisie verwys.