1.09.2010 Voetgangers die sondaars, sê MVAF
DIE grootste oorsaak van die 64 padongelukke wat die afgelope nie-amptelike langnaweek op Nami- bië se paaie voorgekom het, is voetgangers.
“Die meeste van die ongelukke is deur voetgangers veroorsaak, veral in die Khomas-, Kavango- en Oshana-streek,” het die inligtingsbeampte vir ongelukke en beserings van die Motorvoertuigongelukfonds (MVAF), me. Albertina Shifotoka, gesê.
Dit is volgens haar ‘n algemene tendens en nie net ‘n probleem wat tydens die afgelope “langnaweek” voorgekom het nie. Sy het statistiek aan Republikein verskaf wat toon dat 29% van alle ongelukke tussen Januarie en Julie vanjaar voetganger- verwant was.
Ten minste 25% van alle noodlottige gevalle in dieselfde tydperk het weens botsings met voetgangers voorgekom. Volgens die MVAF se maandelikse statistiek tot Julie vanjaar van ongelukke teenoor voetgangerongelukke (persentasie van voetgangerongelukke in hakies) lyk die situasie soos volg: Januarie: 162 – 45 (28%); Februarie: 191 – 49 (26%); Maart: 183 – 54 (30%); April: 245 – 77 (31%); Mei: 242 – 63 (26%); Junie: 198 – 59 (30%) en Julie: 256 – 65 (25%). Die totale getal ongelukke was 1 477 waarvan 412 (28%) voetgangerongelukke was.
Wat noodlottige ongelukke teenoor voetgangerslagoffers betref, is die statistiek soos volg: Januarie: 28 – 8; Februarie: 20 – 6; Maart: 47 – 12; April: 75 – 15; Mei: 34 – 8; Junie: 35 – 9 en Julie: 42- 11. Dit bring die totaal vanaf Januarie tot Julie vir noodlottige ongelukke op 281 te staan waarvan 69 slagoffers voetgangers was.
Meer mans (65%) as vroue (35%) was in voetgangerongelukke betrokke. ‘n Totaal van 24% voetgangers wat in ongelukke betrokke was, is tussen die ouderdom van 21 en 30 jaar, met 18% tussen die ouderdom van 31 en 40 en 15% tussen die ouderdom van 11 en 20.
|