25.08.2010 VN maak onheilspellende gevolgtrekking
’n JONG meisie in Namibië het deesdae ’n 25 persent kans om voor haar 30ste verjaarsdag aan vigsverwante siektes te sterf. Die inligting kom uit die Verenigde Nasies se Millennium Doelwitte se verslag oor Namibië en is tydens die slypskool oor Jeugvoorplantingsgesondheid en MIV/vigs deur me. Claudia Tjikuua, die voorsitter van die Forum vir Afrika Vroue Opvoeders in Namibië (Fawena), bekendgemaak.
Die slypskool is aan 60 meisies uit tien verskillende skole in Windhoek deur Fawena aangebied vanweë die hoë voorkoms van swangerskappe en verkragtings wat in skole aangetref word. Statistieke dui daarop dat jong meisies die grootste risiko loop om MIV/vigs op te doen en meer meisies as seuns word deur MIV beїnvloed.
Dit is drie maal meer waarskynlik dat jong vroue tussen die ouderdomme van 15 en 24 deur MIV/vigs as seuns in dieselfde ouderdomsgroep beїnvloed sal word, sê me. Tjikuua. Sy sê dat die hoë infekteringsyfers van MIV/vigs ’n baie ontstellende kwessie is.
“Dit is ook ontstellend dat verkragting en seksuele mishandeling nie afneem nie, soos gesien kan word in die onlangse geval van Magdalena Stoffel, wat gruwelik verkrag en vermoor is.”
Volgens haar kan dit nie ontken word dat meisies meer kwesbaar vir seksuele teistering en uitbuiting is nie. Voorts het me. Tjikuua gesê die Dakar Raamwerk vir Onderwys vir Almal maak voorsiening dat geslagsgelykheid teen 2015 in skole moet geld.
Die inskrywingsyfer van die Khomas-streek dui egter aan dat meer meisies as seuns by skole inskryf. Volgens nasionale statistieke van 2007 het ’n totaal van 167 892 leerlinge vir senior primêre grade ingeskryf van wie 85 069 meisies was.
Dit beteken dus dat 2 246 meer meisies as seuns ingeskryf het. In 2008 het slegs 69 955 meisies vir junior sekondêre skoolopleiding ingeskryf.
“Wat het van die ander 15 114 meisies geword?” wou me. Tjikuua weet.
Sy sê ongelykheid bestaan steeds aangesien baie meisies nog na graad 7 die skool verlaat omdat hulle swanger word of om die rol van versorger van hul familie te speel. Nie baie meisies wat wel graad 12 voltooi, gaan voort om verder te studeer of om ’n ordentlike werk te vind nie.
Intussen het die adjunksekretaris- generaal van die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu), me. Loide Shaanika, gesê meisies word kultureel as versorgers in elke familie beskou. Sodanige kulturele verpligting het baie meisies uit die skool gehou sodat hulle daardie verantwoordelikhede kan nakom.
Volgens me. Shaanika toon statistieke wêreldwyd dat meisies en vroue benadeel word en gevolglik in armoede leef, indien nie laer as die vereiste minimum lewenstandaard nie. Sy sê dit kan toegeskryf word aan die feit dat meisies op ’n jong ouderdom die skool moet verlaat of moet trou.
|