23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

3.03.2010

Visrivier woed by Hardapdam

DIE Hardapdam se sluise is sedert gisteroggend onverwags oop terwyl die pad tussen Kalkrand en Maltahöhe weggespoel het na buitengewoon hoë neerslae van byna 150 mm in die opvangsgebied van die Visrivier.

Die verwagting is dat die sluise eers teen vanoggend gesluit sal word. Byna 20 miljoen kubieke meter water het gister in tien ure in die Hardapdam ingestroom nadat reënneerslae van tot 147 mm in die opvangsgebied geval het.

Die sluise is gisteroggend sesuur oopgemaak en aanvanklik is water teen ’n lae tempo uit die dam gelaat, maar met die sterk invloei van sowat 800 kubieke meter per sekonde is besluit om die wateruitvloei na 500 kubieke meter per sekonde te versnel.

Terselfdertyd is skade aan plase in die opvangsgebied van die Visrivier, wat gister kant aan wal geloop het, aangerig.

Teen vieruur gistermiddag was reeds 10,854 miljoen kubieke meter water uit die Hardapdam uitgelaat wat ongeveer die helfte van Windhoek se jaarlikse waterverbruik is. Die totale invloei sover in die Hardapdam die seisoen is 106,245 miljoen kubieke meter met die totale uitlaat vir die seisoen wat op 38,358 miljoen kubieke meter staan.

Maandag het die Hardapdam se watervlak op 66,7% gestaan, maar het gister tot 69,9% gestyg. Volgens ’n inwoner het die water aan die bo-lope van die Visrivier begin sak, maar nog nie by die dam self nie.

Teen druktyd het die water steeds by die Hardapdam ingestroom.

Tussen Kalkrand en Maltahöhe het dit tussen 105 en 145 mm gereën wat die pad tussen die twee dorpe laat wegspoel het.

Op mnr. Gielie Vermeulen se plaas Soverby, wat in die opvangsgebied van die Visrivier geleë is, is 147 mm aangeteken.

Suid van Schlip, op die plaas Durichas, het 134 mm uitgesak. By Maltahöhe se dorpsraadkantoor is net 36 mm gemeet.

Op die plaas Sumbron van mnr. Nic Kruger het mnr. Johan Wohler van Maltahöhe se motor Maandagaand omstreeks nege-uur in die Visrivier weggespoel.

“Ons elektrisititeit en telefoon is af en die drade op die plaas het weggespoel,” het mnr. Kruger gesê.

Reënneerslae vir gister soos deur die weerkantoor verskaf, is: Aus 25,8 mm, Suiderhof 10 mm, Windhoek 9,8 mm, Keetmanshoop 9,5 mm, Eros 7 mm, Mariental 5,4 mm, Katutura 5,3 mm, Rundu 2,5 mm en Otjiwarongo 1 mm met ligte buie op Gobabis en Katima Mulilo.

Volgens die daaglikse rivierverslag het die Oranjerivier by Katlani met 31 cm gestyg terwyl dit by Vioolsdrift met 3 cm gestyg het.

Die Zambezirivier het by Katima Mulilo met 13 cm gestyg en staan nou op 5,16 meter in vergelyking met 5,28 dieselfde tyd verlede jaar.

Die vlak van die Cuvelairivier het ’n geringe styging getoon met 3 cm by Oshakati Sky Bridge, 2 cm by Oshakati Onkandjengendi en 1 cm by Okatana. Baie ligte reënneerslae van slegs 0,22 mm is in die Cuvelai-gebied gerapporteer, volgens die verslag.

Die weervoorspelling vir vandag is bewolk of gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm met geïsoleerde tot verspreide buie en donderbuie vir die binneland.

By die kus sal dit gedeeltelik bewolk en koel tot warm wees met aanvanklike miskolle en mooiweer later. Die wind sal matig noordoos tot noordwes waai.