9.12.2011 Vir braaivleisvuur, is permit die kuur
 Druk op Namibiese paaie sal van vandag af toeneem met talle vakansiegangers wie se verlof aangebreek het. Reisigers deur Windhoek wat vleis vervoer, word gemaan om seker te maak oor permitvereistes wat vanjaar streng toegepas word vir die in-transit vervoer van vleis deur die hoofstad se munisipale gebied. Konstabel Pinehas Aluvila was gister aan diens om motoriste veilig deur die padblokkade op die pad na Okahandja te lei.
DAAI lekker vet ribbetjie wat vir die eerste aand by die see se braai uitgehou word, kan dalk net vir jou verlore wees indien jy nie oor die nodige permit beskik om dit daarheen te vervoer nie.
Klagtes is hierdie week ontvang van vakansiegangers wie se vleis by die padblokkade buite Windhoek op pad na die noorde afgeneem is, omdat die eienaars daarvan nie oor ’n in-transit permit beskik het om die vleis deur Windhoek se munisipale gebied te vervoer nie.
“Ons het twee tipes permitte vir die vervoer van vleis. Die een is om vleis na Windhoek te vervoer en die ander is om dit deur die munisipale gebied te vervoer,” het ’n verteenwoordiger van die Windhoek munisipaliteit se gesondheidsafdeling by navraag gesê. Hierdie departement is verantwoordelik vir die uitreik van die permitte.
Die permitte is net vir Windhoek nodig aangesien die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou geen permitte vir die vervoer van vleis binnelands vereis nie.
Mnr. Clyde Lawrence, hoof van gesondheidsdienste by Swakopmund se munisipaliteit, het bevestig dat sy dorp geen regulasies het oor vleis wat vir eie gebruik daarheen vervoer word nie.
In die lig van Windhoek se regulasies, het hy vakansiegangers egter aangeraai om, indien hulle vleis vervoer, die strokies van waar hulle dit gekoop het, te hou. Indien die vleis van ’n plaas afkomstig is, sê hy moet ’n brief van die eienaar van die plaas byderhand wees waarin ook staan dat die vleis vir eie gebruik geslag is.
In ’n verklaring wat deur die Windhoek munisipaliteit uitgereik is, sê hulle dat die permit nodig is om die publiek se gesondheid te beskerm. “Die vleispermit is ’n wetlike vereiste om die higiëne en gehalte te kontroleer,” het me. Siboni Derkse van die munisipaliteit gesê.
Die regulasies geld vir die vervoer van 50 kg vleis of meer as een identifiseerbare karkas.
Permitte kan tydens kantoorure van die munisipaliteit se gesondheidsafdeling op die sewende vloer van die munisipale gebou op die hoek van Sam Nujoma-rylaan en Reverend Michael Scottstraat verkry word. Verder kan die kantoor geskakel word by 061 290 2594, ’n e-pos kan gestuur word na lsm@windhoekcc.org.na of besonderhede vir die uitreik van die permit kan gefaks word na 061 290 2056.
|