18.02.2010 Vieringsembleem bekendgestel
 Die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, by die nasionale embleem vir Namibië se twintigste onafhanklikheidsviering wat gister deur hom bekendgestel is.
VOORBEREIDINGS vir Namibië se twintigste onafhanklikheidsvieringe op 21 Maart 2010 is aan die gang en die nasionale embleem vir die vieringe is gister deur die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, amptelik bekendgestel.
In sy toespraak het die Premier gesê dat die burgers van die land op 21 Maart 2010 by die Onafhanklikheidstadion sal vergader om Namibië sy vryheid en onafhanklikheid van apartheidskolonialisme te vier.
Ministeriële en tegniese komitees is in die lewe geroep om die nasionale geleentheid te reël en die ontwerp van die embleem maak deel uit van die vieringe.
Die embleem verteenwoordig Namibië se nasionale eenheid in diversiteit en ’n dinamiese volk wat voortstu om nasionale doelwitte te haal soos vervat in die Derde Nasionale Ontwikkelingsplan en Visie 2030.
As deel van ’n veldtog vir die vieringe is ’n kort elektroniese dramareeks ook saamgestel om die pad na vryheid en onafhanklikheid te weerspieël. Die reeks sal op die nasionale radio- en televisiediens uitgesaai word in ’n aanloop tot die vieringe van 21 Maart 2010.
Verskeie openbare toesprake sal ook in die tyd gelewer word oor die suksesse wat die land die afgelope twintig jaar behaal het.
Mnr. Angula het gesê dat die datums wanneer die openbare toesprake gelewer sal word, in die media bekendgemaak sal word.
|