23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

24.08.2010

Veterane tree aan vir opleiding

© Dani Booysen
Mnr. Abel Phillip
ERKENDE oorlogsveterane uit die vryheidstryd en hul afhanklikes wat graag verder wil studeer of beroepsopleiding wil ondergaan, het nog tot die einde van die maand tyd om vir die doel te registreer.

Die opkoms op die eerste dag van die voorlopige behoeftepeiling in die Khomas-streek was maar skraal toe minder as tien mense hul name vir die databasis ingehandig het.

Die 50-jarige mnr. Abel Phillip is voorlopig weggewys omdat hy nog nie formeel deur die Ministerie van Veteranesake se keuringsraad as ’n oudstryder gesertifiseer is nie.

“Ek het al in 2008 aansoek gedoen,” het hy by die Soweto-kiesafdelingkantoor in Katutura aan Republikein vertel. Volgens mnr. Phillip was hy voor onafhanklikheid ’n Swapo-organiseerder op Walvisbaai.

Hy is na die Ministerie se hoofkantoor verwys om navraag oor die status van sy aansoek te doen.

Mnr. Frank Mukube, ’n senior vakopleidingsinstrukteur, het gehoop dat die opkoms op oorblywende registrasiedae sal verbeter.

Volgens mnr. Dan Kamati, woordvoerder van die Ministerie van Veteranesake, sal oudstryders in Windhoek se belangstelling in verdere opleiding bepaal of soortgelyke opnames ook in ander streke gaan plaasvind. Afhangende van die opkoms sal die Ministerie verder besin oor moontlike studiebystand, byvoorbeeld in die vorm van beurse.

Mnr. Phillip se aansoek om veteraanstatus, het hy gesê, is dalk afgekeur.

Volgens mnr. Kamati gee die Ministerie tans geen terugvoering aan onsuksesvolle aansoekers nie, omdat daar nog geen liggaam bestaan by wie beswaardes appèl kan aanteken nie. “Dit neem regtig tyd,” het hy egter oor ’n keuringsproses benadruk wat doodseker moet maak dat kansvatters nie dalk onregverdiglik vir staatshulp as oudstryders kwalifiseer nie.

Mense wat onseker is of hul aansoeke geslaag het, is volgens mnr. Kamati welkom om navraag by die Ministerie te doen.

Alle geregistreerde oudstryders en hul afhanklikes wat hulself in die hoofstad bevind en hul opvoedkundige behoeftes onder die Ministerie se aandag wil bring, kan nog vanaf 08:00 tot 17:00 op die volgende dae by die volgende kiesafdelingskantore aanmeld:

Môre: Khomasdal-Noord

Vrydag 27 Augustus: Tobias Hainyeko

Maandag 30 Augustus: Windhoek-Wes

Dinsdag 31 Augustus: Windhoek Landelik

Aansoekers moet die Ministerie se goedkeuringsbrief dat hulle as veterane geregistreer is, bewys van hul identiteit en vorige opleidingsertifikate saamneem.

Die Ministerie is tans besig met ’n tweede registrasieprojek om oudstryders te help wat hul lewensomstandighede wil verbeter.

Geregistreerde veterane en hul afhanklikes wat nuwe ondernemings wil begin wat tot inkomstegenerering en werkskepping sal bydra, of bestaande besighede met dieselfde oogmerke wil uitbrei, kan sakeplanne aan die Ministerie voorlê om vir bystand in die verband te kwalifiseer.

Die sluitingsdatum vir aansoeke is 10 September.