
Me. Pendukeni Iivula-Ithana
DIE vermeende ver te ligte raps wat die Hoërhof ’n Windhoekse sakeman Maandag oor die vingers gegee het vir die dood van sy vrou, het die spanning tussen die uitvoerende en geregtelike gesag in Namibië opnuut op die voorgrond gestoot met ’n aantyging deur die Minister van Justisie, me. Pendukeni Iivula-Ithana, dat Namibiërs in die algemeen en veralvroue uitgelewer is aan ’n regstelsel wat nie geregtigheid laat geskied nie.
Intussen het die Aanklaergeneraal, me. Martha Imalwa, gesê haar kantoor sal die redes vir die vonnis in die komende dae nougeset fynkam om vas te stel of die staat enige gronde het om appèl teen Lazarus Shaduka se straf aan te teken.
Me. Iivula-Ithana se geil woede het gister in Windhoek weerklank gevind by ’n maandelike gespreksforum oor misdaad aangebied deur die organisasie CHANGE, met me. Michaela Hübschle, voormalige adjunkminister van gevangenisse en korrektiewe dienste, aan die spits.
“Vroue moet saamstaan,” het sy gesê, berig
André le Roux. “’n Mens kan nie verwag dat daar iets aan hierdie sake gedoen word indien vroue nie soos een opstaan en hul stemme dik maak nie.”
Buite die hof was daar Maandag luide protes uit die geledere van familie en vriende van wyle me. Selma Shaimemanya en vooraanstaandes in die stryd teen geweldsmisdade teen Namibiese vroue en kinders nadat Shaduka ’n boete van N$25 000 of een jaar se tronkstraf gekry het vir die growwe nalatigheid wat in Julie 2008 tot sy vrou se dood gelei het.
Regter Kato van Niekerk het bevind dit was ’n skietongeluk en dus eerder strafbare manslag as moord.
Ek is volkome geskok,” het me. Iivula-Ithana gister ’n tirade voortgesit wat Maandagaand op die NBC se TV-nuus begin het. “Ek is sprakeloos,” het die Swapo-swaargewig aan Republikein gesê. “Dit (die vonnis) is ’n verleentheid. “Om sake te vererger, is die uitspraak gelewer deur ’n vroulike regter.”
Volgens me. Iivula-Ithana sou ’n mens darem verwag dat ’n vroueregter haar kwesbare geslagsgenote se gevoelens en vrese in ag sou neem.
“Die doodmaak van vroue het so algemeen geword,” het sy opgemerk.
“Geregtigheid geskied nie,” het die Minister onder die regbank ingeklim, hoewel sy erken het dat sy nie self die lywige uitspraak gelees het nie. “Die publiek is uitgelewer aan twyfel of daar enige beskerming in ons regstelsel is,” het sy gesê.
“Die man het ’n geskiedenis van geweld,” het me. Iivula-Ithana oor die veroordeelde opgemerk. “Daar is ’n sleepsel stories…”
“Ek is eers Maandag van die vonnis ingelig,” het me. Imalwa aan Republikein gesê. “Ek moet myself nog op hoogte bring van die uitspraak en beoordeel of die hof behoorlik in terme van die wet opgetree of dalk gedwaal het.”
Gisteroggend het die AG nog nie ’n afskrif van die vonnisoplegging ontvang nie.
“Ek wil sake nie vooruitloop nie,” het sy benadruk. “Ons sal aan die gronde vir ’n appèl moet voldoen.”
Me. Iivula-Ithana het me. Imalwa in die opsig gelykgegee. “Dit is nie my werk om vir die AG te besluit nie,” het die Minister van Justisie gesê.
Die staat het 14 werksdae om ’n appèl te bring.
Die hof het Shaduka, wat reeds meer as twee jaar in die tronk deurgebring het, Maandag kwaai geroskam vir sy gebrek aan berou.
Ondanks die onmeetbare pyn en lyding waarin die Shaimemanya-familie gedompel is, het Regter Van Niekerk egter bevind dat die swaar strawwe wat die Wet op Huishoudelike Geweld voorskryf, nie van toepassing is nie. Die hof kon naamlik nie ’n duidelike bewysketting vind tussen die egpaar se huweliksprobleme, vorige voorvalle van beweerde geweld en die dood van me. Shaimemanya nie.
Regter Van Niekerk het groot nadruk geplaas op die hof se plig om wanneer gepas ’n veroordeelde eerder die kans te gun om sy weë te verander as om ’n produktiewe persoon uit die gemeenskap te verwyder.
Vir regsverydeling is Shaduka ’n verdere boete van N$2 000 of twee maande se gevangenisstraf opgelê, terwyl die hof gelas het dat hy eers in 2020 weer vir ’n vuurwapenlisensie mag aansoek doen.
Regter Nthomeng Majara van Lesotho het me. Iivula-Ithana in Julie vanjaar in ’n snydende uitspraak in ’n uitgerekte geding met Namibië se Landdrostekommissie in die Hoërhof tot orde geroep vir haar ondermyning van die onafhanklikheid van die regbank en ’n poging om self regter te speel.
Die Regering het sedertdien egter appèl teen die bevinding aangeteken.