DIE jaarverslag van Namibia Wildlife Resorts (NWR) en die finansiële syfers wat ‘n onafhanklike ouditfirma voorberei het vir die staatskorporasie se 2008/ 2009 finansiële jaar, verskil hemelsbreed van mekaar.
‘n Deeglike ontleding dui daarop dat die staat se nutsmaatskappy in die toerismebedryf inderdaad tegnies bankrot is en dat NWR se verslag misleidend is.

Mnr. Gielie van Zyl
Terwyl dr. Tobie Aupindi in sy jongste jaarverslag met ‘n wins spog en steeds kla dat net die oordrag van staatsbates aan die korporasie die NWR op die pad van volgehoue winsgewendheid sal plaas en dat die NWR ondanks ‘n jarelange sukkeltog met bates tog in die laaste verslagjaar ‘n wins kon wys, is dit uit die finansiële state duidelik dat skenkings en staatshulp die salarisse by die NWR moet help betaal.
‘n Deskundige, mnr. Gielie van Zyl, bedryfskenner en bekende in toerismekringe, meen dat die oordrag van bates buitendien ook net ‘n seën sal wees solank langtermynskuld daarmee gefinansier kan word.
Sodra die bates ten volle verpand is, sal die NWR weer bakhand voor die belastingbetaler moet kom staan vir hulp. Mnr. Van Zyl het die ontleding van die finansiële state en die NWR se jaarverslag onafhanklik en in sy persoonlike hoedanigheid gedoen.
Min van die Aupindi-spogsyfers by NWR weerspieël die waarheid. So is daar die kwessie van volhoubare winsgewendheid en die talle vrae rondom bedbesetting, personeelgetalle wat so hoog is soos twee werkers vir elke toeris en of die regrukstrategie van die NWR tog uiteindelik sal werk.

Dr. Tobie Aupindi, besturende direkteur van Namibia Wildlife Resorts
Mnr. Van Zyl sê op bladsy 7 van die finansiële verslag word ‘n netto wins van N$9,3 miljoen vir die jaar geëindig 31 Maart 2009 aangedui.
“Neem in ag ‘n ‘other income’ van N$15,8 miljoen en ‘n ‘grant income’ van N$29,4 miljoen. Dit is baie duidelik dat as die kunsmatige ‘grant income’ teruggetel word, verander die resultaat na ‘n verlies van N$20 miljoen. Net so is 2008 se oënskynlike wins van N$15 miljoen eintlik ‘n verlies van ten minste N$33 miljoen.”
Mnr. Van Zyl wys ook daarop dat die sogenaamde “other income” nêrens in die state toegelig word nie en dit laat die leser wonder waaruit dit bestaan.
Volgens hom lyk dit asof NWR die syfers in die finansiële state so verwoord het in sy jaarverslag sodat die prentjie beter lyk.
“Op bladsy 41 van die jaarverslag word die eerste drie grafiese voorstellings gedoen oor die finansiële prestasie van NWR. Met die eerste voorstelling van die groei in die bruto inkomste van NWR sedert 2005, word spesifiek daarop gewys dat dit ‘grants’ uitsluit, wat natuurlik reg is.
“In die daaropvolgende twee grafieke word die wins/verlies per jaar sedert 2005 en die opgehoopte verliese sedert 2005 weergegee, maar albei grafieke se syfers sluit die ‘grant income’-syfers vir die laaste paar jaar in.
“Dit verander die prentjie drasties en as die ‘grant income’-syfers teruggetel word, is die grafieke deurgaans negatief en wys dit op presies die teenoorgestelde as dit wat NWR in die verslag sê.
“Ongelukkig stem van die syfers in die jaarverslag in die verband ook nie ooreen met die amptelik geouditeerde syfers in die finansiële state nie.”
Verder het mnr.Van Zyl op die lae bedbesettingsyfer van NWR gewys, wat nêrens in die maatskappy se jaarverslag te lese is nie.
“Dit is een van die belangrikste aanduiders van sukses of mislukking in die akkommodasiebedryf.
“Die feit dat NWR die dramatiese tariefverhogings in die laaste twee jaar geïmplementeer het, word ook nêrens genoem nie,” sê mnr. Van Zyl.
“Die jaarverslag bevat ‘n tabel wat die aantal beskikbare beddens weergee (bladsye 5 en 6) en op bladsy 18 verwys mnr. Aupindi daarna as 1 258 beskikbare beddens, terwyl die tabel 1 318 beddens weergee.”
Volgens die ontleding wat mnr. Van Zyl gedoen het, het hy die laasgenoemde syfer gebruik (uitgesluit die beskikbare akkommodasie van die kampeerplekke). Gebruik ons die N$ 99 213 814 inkomste ten opsigte van akkommodasie (nota 2 op bladsy 16 van die finansiële state) en aanvaar dat die gemiddelde netto inkomste vir NWR N$750 per nag per bed is (konserwatief geskat), kom dit neer op ‘n gemiddelde bedbesetting van heelwat minder as 30 %!”
Mnr. Van Zyl sê ook dat indien die kampeerplekke se inkomste ook deel van die akkomodasie inkomste (die N$99 213 814 op bladsy 16 van die state) gevorm het en dieselfde berekening gemaak word, is die gemiddelde besettingsyfer nog swakker.
“Die jaarverslag gaan voort deur daarop te wys dat bykomende kapasiteit vir toeriste geskep moet word. Maar dieselfde som wys dat die NWR gemiddeld meer as twee mense in diens het vir elke toeris wat by hulle aandoen – ‘n verhouding van minstens 2:1.”
In die NWR-jaarverslag word ‘n paar winsgewende kampe en oorde se syfers aangebied as ‘n bewys van die groei in winste en ‘n bewys dat sy regrukstrategie werk.
“Indien ons die winste in die laaste jaar van al hierdie kampe en oorde bymekaar tel, kom dit daarop neer dat hierdie kampe en oorde ‘n wins van N$58,7 miljoen vir die jaar geëindig 31 Maart getoon het. Neem ‘n mens egter die werklike verlies van N$20 miljoen vir NWR in ag (soos bo bespreek), beteken dit dat ander ontoegedeelde koste van NWR-hoofkantoor en verliese by ander kampe en oorde gesamentlik N$78 miljoen moes beloop het vir die jaar,” sê mnr. Van Zyl.
Met die hoofkantoorkoste word verwys na die koste van bemarking, die sentrale besprekingskantoor en finansiële- en administratiewe bestuur. Nog ‘n kwessie wat mnr. Van Zyl betwis, is die verwysing na ‘n bedrag van N$48 miljoen wat die NWR aan die Ministerie van die Omgewing en Toerisme geskuld het en in die 2008-boekjaar afgeskryf is.
“Dié afskrywing in 2008 het beteken dat die wins vir 2008 met N$48 miljoen oorstateer was. “Dit wil sê indien die afskrywing nie in 2008 plaasgevind het nie, sou die wins van NWR in 2008 met N$48 miljoen verminder gewees het.
“Hierdie verpligting teenoor die Ministerie is in vorige jare opgebou en nooit oorbetaal nie. Die bedrag van N$48 mijloen was dus in die finansiële state in vroeër jare getoon as deel van die uitgawes, maar dit was nooit oorbetaal nie.
“Toe die Regering besluit het om die bedrag in 2008 af te skryf sodat die NWR nie meer hierdie uitstaande betaling as ‘n verpligting in hulle boeke hoef te toon nie, moes dit weer in die state reggemaak word sodat die opgehoopte wins- of verliesposisise reggestel kan word.
“Met ander woorde, NWR het in 2008 ‘n winsmeevallertjie van N$48 miljoen, wat niks te make gehad het met die aktiwiteite van NWR in daardie jaar nie.
“Die werklike situasie vir die jaar geëindig 31 Maart is toe al die tyd ‘n verlies van N$33 miljoen in plaas van die tegniese wins van N$15 miljoen vir daardie jaar waarmee NWR spog! NWR het dus sy grootste verlies ooit in enige jaar behaal aan die einde van die tweede jaar van dr. Aupindi se bewind,” meen mnr. Van Zyl.
In ‘n radio-onderhoud met ‘n radiostasie verlede week, het dr. Aupindi gesê dat sy maatskappy nie ‘n kontantinspuiting van N$27 miljoen ontvang het om operasionele uitgawes in die 2008/2009-boekjaar te dek nie. Hy het gesê dit was ‘n skenking van die Regering om NWR van ondergang te red nog voordat hy in 2005 aangestel was.
“Ongelukkig vertel die state ‘n ander storie. Die kontantvloeistaat van die 2009-boekjaar wys duidelik dat hierdie N$27 miljoen wel in die 2009-boekjaar plaasgevind het onder die opskrif ‘Grant income received N$27 M’. Dít staan in die state wat deur die onafhanklike eksterne ouditeure opgestel is,” sê mnr. Van Zyl.
Mnr. Van Zyl sê dieselfde kontantvloeistaat (bladsy 10) wys ook dat die NWR in 2008 ‘n kontantinsluiting van N$82 miljoen van die Regering gekry het as ‘n “grant imcome”.
“Hierdie feit, sowel as die vorige paragraaf se ‘grant income’ van N$27 miljoen in 2009 en ook die feit dat die bedryfsuitgawes die bruto wins die afgelope twee jaar met N$58 miljoen oorskry volgens die state, wys duidelik daarop dat as dit nie was vir die ‘grant income’ van altesame N$102 miljoen die afgelope twee jaar nie, sou die NWR gewis nie salarisse kon betaal nie.
“In die radio-onderhoud beweer dr. Aupindi dat die NWR in sy tyd (sedert 2006) nog nooit ‘bailout money’ ontvang het nie. U kan u eie afleiding maak oor die juistheid van hierdie stelling!”
Volgens die kontantvloeistate van die afgelope drie jaar sedert dr. Aupindi se aanstelling, het die NWR N$214 miljoen kontant gegenereer deur langtermynlenings en Regeringskenkings, terwyl net N$142 miljoen daarvan aangewend is vir kapitale uitgawes.
Die oorblywende N$72 miljoen was nie op 31 Maart 2009 as kontant op hande in die state gereflekteer nie, wat beteken dat die N$72 miljoen die bedryfsuitgawes van NWR oor die tydperk gediens het.
Oor die langverwagte oordrag van bates moes dit lankal in die naam van die NWR oorgedra gewees het volgens die tersaaklike wetgewing en Kabinetsbesluit in die verband, sê mnr. Van Zyl,
“Die NWR moet egter nie onder die indruk verkeer dat die maatskappy se winste ná die oordrag die hoogte gaan inskiet nie, want daar is geen verband tussen bates en winsgewendheid nie.
“Dit sal net die balansstaat laat beter lyk en daartoe lei dat die NWR nie meer tegnies bankrot is nie.”