4.03.2010 Veeartsberoep kry hupstoot
 Voor v.l.n.r. sit mnr. Isak Katali, adjunkminister van Landbou, Water en Bosbou; die Minister, mnr. John Mutorwa; en die voorsitter van die Veeartsynekunderaad van Namibië (VCN), dr. Rainer Hassel tydens die verwelkoming van die vier nuwe veeartse by die Ministerie. Agter v.l.n.r. staan die betrokke veeartse, te wete drs. Shaan Nels, Kaino David, Israel Kaatura en Josephat Peter-Shimbode.
DIE veeartsenyberoep in Namibië het ’n baie welkome hupstoot gekry toe vier Namibiese veeartse vandeesweek deur die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou (MAWF) aangestel is.
Aangesien hulle hul studies buite Namibië voltooi het, moes hulle die toelatingseksamen van die Veeartsenykunderaad van Namibië (VCN) aflê om hier te lande te praktiseer.
Volgens die Minister van Landbou, Water en Boshou, mnr. John Mutorwa, word 24 studente tans deur die Ministerie gefinansier om veeartsenykunde aan die Universiteite van Pretoria, Zambië, die Sokoine Universiteit van Landbou in Tanzanië en die Universiteit van Nairobi in Kenia te studeer.
Die beurse word deur die Ministerie beskikbaar gestel om die tekort aan veeartse die hoof te bied. Die Ministerie het ook in 2008 ’n internskapprogram op die been gebring om gekwalifiseerde Namibiese veeartse wat in verskeie lande gestudeer het, vir die VCN-eksamen voor te berei.
Slaging van die eksamen is ’n vereiste voor ’n veearts in Namibië kan registreer en wettig in die land praktiseer. Agt Namibiërs het in Februarie vanjaar hierdie eksamen afgelê, van wie vier suksesvol was en onmiddellik deur die Ministerie aangestel is.
Die ander vier sal in Junie die geleentheid gebied word om die ekasamen te herhaal. Minister Mutorwa het ook bekendgemaak dat die wet wat veeartseny en para-veeartseny reguleer, tans hersien word ten einde uitdagings in die veeartsenyberoep te hanteer.
“Die wet sal binnekort aan die Parlement voorgelê word,” het hy gesê.
Mnr. Mutorwa het ook gesê dat die Ministerie werk aan ’n medium en langtermyn strategie om die noordelike kommunale gebiede vry van bek-en-klou-seer sowel as longsiektes te verklaar om die lewendehawe in die streke in die nasionale landbou-ekonomie in te sluit.
Klik op die foto om die fotogallery te vertoon. In die gallery sal jy na die volgende of die vorige foto's kan aanbeweeg deur in die linker- of die regterkant van die foto te klik. Alternatiewelik kan jy die sleutel "T" gebruik vir terug, "V" vir vorentoe of "M" om die fotovenster toe te maak.
Francios Olivier
|