24.01.2012 Usakos-verdrinking laat talle vrae
 Mnr. Frans Nangoloh het vermoedelik tussen vyfuur en sewe-uur die aand verdrink. Sy liggaam is omstreeks nege-uur eers gevind omdat die toestand van die water die soektog bemoeilik het. Leë drankbottels is langs die swembad opgemerk.
’n VRAAGTEKEN hang oor wie die skuld moet kry ná ’n munisipale werker van Usakos se lyk sowat twee weke gelede op die bodem van die vuil openbare swembad op die dorp gevind is.
Mnr. Frans Nangoloh se liggaam is Sondagaand 8 Januarie om sowat negeuur ná ’n soektog van sowat twee ure in die donkergroen water gevind.
Hy het die middag omstreeks vyfuur saam met vriende by die swembad opgedaag wat “as ’n proeflopie” tydelik vir die publiek deur die nuwe ondernemer, mnr. Kurt Brockerhoff, oopgestel is. Dit is gedoen ondanks die feit dat die swembad ná sewe jaar van onbruik nog nie deur die munisipaliteit aan ’n gesondheids- en veiligheidsinspeksie onderwerp is nie. ’n Geskikheidsertifikaat is ook nie aan die nuwe bestuurder van die swembad uitgereik het nie.
Inwoners wil weet waarom die swembad vir die publiek oopgestel is voordat dit skoongemaak en die geriewe opgeknap is.
Volgens mnr. Ulrich Evenson, slaghuiseienaar en sakeman, het hy verlede jaar by die munisipaliteit aansoek gedoen om die bestuur van die openbare swembad oor te neem.
Hy wou filters installer, die geriewe opknap en lewensredders aanstel. Evenson het later gehoor die munisipale raad het besluit om Brockerhoff as swembadbestuurder aan te stel.
Die besluit is volgens mnr. Daniël Stramish, ’n raadslid, geneem omdat Brockerhoff nie op finansiering van buite hoef te steun om uitvoering aan sy sakeplan vir die heringebruikneming van die swembad te gee nie. “Hy het geld om die plek dadelik reg te maak en daarom het die raad op hom besluit. Daar was geen voortrekkery betrokke nie en die besluit is ook nie polities beïnvloed soos die mense beweer het,” het Stramish verduidelik.
Hy wou egter geen kommentaar lewer op wat die middag van die vermeende verdrinking gebeur het nie. “Ek was met verlof en die polisie en die munisipaliteit se ondersoek na die voorval is nog nie afgehandel nie.
“Die raad was onder die indruk dat die swembad eers vir die publiek oopgestel sou word nadat dit gerestoureer is,” het hy bygevoeg.
Brockerhoff het in ’n telefoniese onderhoud aan Republikein vertel hy het die swembad vir drie dae op aandrang van die publiek oopgestel en dat dit “bloot ’n proeflopie” was.
“Ek het die swembad volgemaak om te kyk of dit nie lek nie. Toe kom vra die mense of hulle nie maar kan swem nie, want hulle vergaan van die hitte.”
Brockerhoff sê hy was nie die naweek van die voorval op Usakos nie. “My ma, Zane, het die Sondag by die toegangshek gewerk. Frans het saam met vriende daar aangekom. My ma wou hom nie inlaat nie, want hy was onder die invloed. Hy sê toe vir haar hy gaan in elk geval nie swem nie, want hy kom eintlik net kyk of die toilette reg werk.”
Hy sê die betrokke dag was daar ’n toestroming van mense na die swembad. Brockerhoff sê Nangoloh se vriende het eers agterkom hy is weg toe die hekke om seweuur die aand gesluit is. “Hulle het vir my ma kom sê sy klere lê langs die swembad, maar hy is nêrens te vind nie. Dit is toe dat die polisie ontbied is.”
|